Bible Society of South Africa
Carina Francke

Verhoudinge – Dag 1

Verhoudinge

Bybelteks(te)

19Toe het Hy Hom verweer en vir hulle gesê: “Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so.

JOHANNES 5:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

13Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.

JOHANNES 15:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

15Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want 'n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.

JOHANNES 15:15AFR83Maak oop in die Bybelleser

17Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.

Wees goedgesind teenoor alle mense.

18As dit moontlik is, sover dit van julle afhang,

leef in vrede met alle mense.

ROMEINE 12:17-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Goeie en gesonde verhoudinge is die grondslag van God se skeppingsplan. Vanaf geboorte tot die dood leef ons verstrengel in verhoudinge. Vanuit ʼn verhouding met Hom (wat Hy terloops geïnisieer het), is ons eerstens mens vir Hom, maar terselfdertyd ook mens vir ander.

Gesonde verhoudinge vra gehoorsaamheid aan God. Dit vereis van ons om die enigste God lief te hê met elke greintjie van ons menswees en om mense — ons naaste — lief te hê soos wat ons onsself liefhet. Die een is nie minder belangrik as die ander nie; die liefde wat ons vir mense moet hê, is ʼn liefde wat gelyk is aan die manier waarop ons onsself liefhet (Markus 12:29-31).

Jesus stel die voorbeeld: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so” (Johannes 5:19). Dan sê Hy aan sy dissipels: “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Johannes 15:13). Hy bewys aan hulle dat hulle sy vriende is: “Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Johannes 15:15).

Ons word nie vriende met almal wat ons ontmoet nie, maar menslike kontak is noodsaaklik vir verhoudinge op alle vlakke. Samewerking met kollegas impliseer ʼn werksverhouding (hopelik ʼn goeie een); besighede floreer vanuit goeie verhoudinge tussen eienaars, kliënte en verskaffers; die kassier by die supermark is ʼn kortstondige transaksieverhouding. En dan is daar familie — nie almal is noodwendig jou vriende nie, maar dit is mense in jou lewe wat jy op ʼn ander of spesiale verhoudingsvlak behandel.

Ongeag die soort verhoudinge waarby jy betrokke is, het elke belydende gelowige die verantwoordelikheid om te doen wat die Skrif ons leer: “… bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense” (Romeine 12:17-18).

Ted Haggard het hierdie waarheid so mooi opgesom in sy boek, The Life-Giving Church: “Alles wat God in ons lewens doen, is onbewese totdat dit in verhoudinge getoets word” (vertaal).

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS