Bible Society of South Africa
Carina Francke

Verhoudinge – Dag 19

Die Here en ek: Presiese gehoorsaamheid (2)

Bybelteks(te)

12en toe dink ek: die Filistyne sal nou-nou teen my afkom na Gilgal toe en ek het nog nie aan die Here 'n offer gebring nie. Toe het ek dit gewaag om self die brandoffer te bring.”

1 SAMUEL 13:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

14Maar nou sal jou koningskap nie bestendig word nie. Die Here sal vir Hom 'n man na sy hart soek. Die Here sal hóm aanstel as regeerder oor sy volk, want jy het nie gedoen wat die Here jou beveel het nie.”

1 SAMUEL 13:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

11“Ek is bedroef daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie.”

Samuel was ontsteld en hy het die Here die hele nag om uitkoms gesmeek.

1 SAMUEL 15:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

22Maar Samuel antwoord:

“Is brandoffers en ander diereoffers

net so aanneemlik vir die Here

as gehoorsaamheid aan sy bevel?

Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande,

om te luister is beter as die vet van ramme.

23Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery;

eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery.

Omdat jy die woord van die Here verwerp het,

het Hy jou as koning verwerp.”

1 SAMUEL 15:22-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gehoorsaamheid raak die Here se hart; dit behaag Hom; dit verskaf Hom vreugde. Mense wat sy wil doen is: “ʼn man (of vrou) na sy hart” (1 Samuel 13:14). Vir Hom is sy kinders se gehoorsaamheid prioriteit: “Om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister, beter as die vet van ramme” (1 Samuel 15:22).

Koning Saul kon net nie die Here se opdragte presies gehoorsaam nie. In 1 Samuel 13 is die Filistyne slaggereed om Israel binne te val, maar Saul moes op die profeet Samuel, God se spreekbuis, wag om hom bevel te gee en om die guns van die Here te vra deur brand- en dankoffers (1 Samuel 10:8). Die oormag swaar gewapende Filistyne, bang en vreesagtige Hebreeuse soldate en Samuel wat nog nie opgedaag het nie, het Saul laat besluit “om homself sterk te hou en die brandoffer te bring” (1 Samuel 13:12). Vrees vir mense, omstandighede en tyd wat aanstap, verhinder sy gehoorsaamheid. Hy kies kortpad.

Groot fout! Samuel daag op. Om te wag, is dikwels ʼn toets vir jou geloof en jou karakter — onwrikbare geloof dat Hy wat die opdrag gee, jou nie in die steek sal laat nie en dat jy jou “self” eenkant toe moet skuif. Saul druip die toets en dra die gevolge: Dit kos hom sy koningskap — al was dit eers later in sy lewe. Die Here het immers “… vir Hom ʼn man na sy hart gesoek”, ʼn gehoorsame persoon (1 Samuel 13:14).

Saul se tweede opdrag van die Here was om die Amalekiete te verslaan en alles wat hulle besit te vernietig. Weer voer Saul die opdrag nie presies uit nie — hy spaar die Amalekitiese koning se lewe, asook die lewens van die beste en die tweede beste vee. Die Here se reaksie hierop: “Ek het berou gekry dat Ek Saul koning gemaak het, want Hy het van My afvallig geword en my woorde nie uitgevoer nie” (1 Samuel 15:11). Hy weet beter, of so dink hy.

Saul tree op soos ons ook dikwels optree. Hy verontskuldig homself en plaas die skuld op die manskappe omdat hulle die vee aan die Here wou offer. Sy eie “ek” en vrees vir mense is weereens die oorsaak vir sy ongehoorsaamheid aan die Here (1 Samuel 15:24). Samuel beskryf Saul se ongehoorsaamheid en onwilligheid om skuld te erken soos volg: “Wederstrewigheid is ʼn sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens” (1 Samuel 15:23).

Ek en jy mag nie toelaat dat vrees vir mense, ons eiesinnigheid, ons trots, of ons wederstrewigheid in ons pad staan om presies te doen wat die Here sê nie. Wanneer die Woord en die Heilige Gees ʼn leefstylgewoonte aanspreek, is dit nodig om te gehoorsaam, want Hy het elke minuut van ons vandag en môre in gedagte wanneer Hy opdragte gee of koers aandui. Ons ongehoorsaamheid uit beterweterigheid bring ons net op paaie weg van Hom af.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS