Bible Society of South Africa
Carina Francke

Verhoudinge – Dag 18

Die Here en ek: Presiese gehoorsaamheid (1)

Bybelteks(te)

DEUTERONOMIUM 1

41“Toe het julle uitgeroep: ‘Ons het teen die Here gesondig! Ons wil optrek en gaan veg soos die Here ons God ons beveel het.’ Julle het julle wapens gegryp en gedink dis kinderspeletjies om die Bergwêreld te gaan verower.

DEUTERONOMIUM 1:41AFR83Maak oop in die Bybelleser

DEUTERONOMIUM 1

43Ek het dit vir julle gesê, maar julle het nie geluister nie en in opstand gekom teen die opdrag van die Here. Julle was moedswillig en het na die Bergwêreld toe getrek, 44maar die Amoriete wat in daardie gebied woon, het teen julle opgeruk en julle verjaag soos 'n swerm bye dit sou doen en julle van Seïr af tot by Gorma uitmekaar gejaag. 45Toe het dit julle berou dat julle dit gedoen het en julle het julle nood by die Here kom kla, maar Hy het nie na julle geluister nie en Hom nie aan julle gesteur nie.

DEUTERONOMIUM 1:43-45AFR83Maak oop in die Bybelleser

FILIPPENSE 2

8het Hy Homself verder verneder.

Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

FILIPPENSE 2:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gehoorsaamheid aan God lê in die kern van gelowiges se verhouding met Hom. Dit onthul wie die ereplek in jou lewe beklee en wie die objek van jou liefde en toewyding is.

Moses se kort opsomming van wat met Israel in die woestyn gebeur het, dui op die belangrikheid van gehoorsaamheid aan God, maar wys ook duidelik op die gevolge van ongehoorsaamheid (Deuteronomium 1:21-46).

Die Here het die Israeliete opdrag gegee om die land van die Amoriete in besit neem; hulle hoef nie te vrees nie, want Hy gaan voor hulle uit en Hy sal vir hulle veg. Hierdie versekering van die Here self, die goeie verslag van die verspieders oor die land wat hulle moet inneem en ʼn terugblik oor hoe God hulle op die reis vanaf Egipte versorg en gedra het, was egter nie vir hulle genoeg om gehoorsaam te wees nie. Hulle vrees vir mense is groter as hulle agting vir die Here. Die gevolg hiervan? Die geslag wat uit Egipte getrek het, mag nie meer die beloofde land binnegaan nie — slegs die kinders en die twee verspieders, Kaleb en Josua, sou toegelaat word (Deuteronomium 1:35-39).

Met die aanhoor van hierdie nuus wou hulle skielik gehoorsaam wees: “Ons het teen die Here gesondig; ons sal self optrek en veg net soos die Here onse God ons beveel het” (Deuteronomium 1:41). Maar hierdie besluit kom te laat — hulle mag nie meer optrek of veg nie, want Hy sou nie by hulle teenwoordig wees nie en die vyand sou hulle verslaan. Weer het hulle nie geluister nie en moes die gevolge dra: “… julle was wederstrewig teen die bevel van die Here en het vermetel in die gebergte opgetrek … die Amoriete het julle verstrooi … En julle het teruggekom en voor die aangesig van die Here geween, maar die Here het na julle stem nie geluister en julle geen gehoor gegee nie” (Deuteronomium 1:43-45).

Wat was dan die probleem? Hulle het immers erken dat hulle ʼn fout gemaak het en wou dit regstel! Jy sien, hulle wou steeds op húlle voorwaardes gehoorsaam wees: Hulle erken hulle sonde, maar vra nie vergifnis nie; húlle wil besluit wanneer dit die regte tyd is om gehoorsaam te wees, al dan nie; hulle sal sélf optrek en veg. Nêrens is daar erkenning gegee aan die Here nie — erkenning dat hulle Hom nodig het, of dat Hy hulle tot sover gebring het nie.

Soos die Israeliete is ons eie wil, die “ek” of die “self”, die mens se grootste struikelblok tot gehoorsaamheid. Jesus, Seun van God, het egter presiese gehoorsaamheid getoon: “En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis” (Filippense 2:8)Sy voorbeeld is die een wat ons moet navolg.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS