Bible Society of South Africa
Carina Francke

Verhoudinge – Dag 17

Die Here en ek: Krummelgeloof

Bybelteks(te)

25Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: “Here, help my!”

26Hy sê vir haar: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.”

27“Dit is waar, Here,” sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.”

28“Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.”

Van daardie oomblik af was die dogter gesond.

MATTEUS 15:25-28AFR83Maak oop in die Bybelleser

6Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos 'n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam.

Matteus 15:21-28 vertel van Jesus se besoek aan die nie-Joodse streke Tirus en Sidon waar ʼn vrou vanuit daardie gebied na Hom geroep het om haar duiwelbesete dogter te genees. Die feit dat die Jode haar volk verafsku en die dissipels daarop aandring dat Jesus haar wegjaag, het haar nie van stryk gebring nie — sy het in Hom geglo om haar kind gesond te maak.

Selfs toe Jesus haar ongeërg daarop wys dat Hy eintlik vir die verlore skape van Israel gekom het, deins sy nie terug nie. Sy val voor Hom neer en sê: “Here, help my!” ( Matteus 15:25). Vir ʼn tweede keer kommunikeer Jesus sy oënskynlike onwilligheid: “Dit is nie mooi om die brood van kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie” (Matteus 15:26)Sy het egter die ware betekenis van wat Hy gesê het begryp — die Jode het na heidene as honde verwys, wat impliseer dat hulle ook nie God se seën kon ontvang nie. Sy aanvaar egter nie “nee” vir ʼn antwoord nie en reageer met ʼn verrassende geloofsantwoord: “Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval” (Matteus 15:27). Dit is wat Jesus wou hoor. Sy ongeërgdheid teenoor haar het ʼn belydenis van triomfantelike geloof ontlok.

Sy het besef dat sy nie aanspraak kan maak op ʼn hele brood uit Jesus se hand nie, maar krummels uit sy hand wás vir haar ʼn hele brood. Haar krummelgeloof is die soort geloof waaroor Jesus in Lukas 17:6 praat: “As julle geloof gehad het soos ʼn mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: ‘Word ontwortel en in die see geplant’ — en hy sou julle gehoorsaam wees.”

Haar geloof is nie beïnvloed deur afjakke, die Jode se voorkeurbehandeling of haar heidense agtergrond nie. Sy het geweet dat oorvloed by Jesus beskikbaar is en dat Hy dit graag uitdeel. En die uitkoms van haar onverskrokke, gelowige pleidooi? Jesus antwoord haar: “O, Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê. En haar dogter het gesond geword van daardie uur af” (Matteus 15:28).

As jou geloof getoets word deur bespotting, verkleinering, omstandighede, of met ʼn skynbare “Nee!”, sal jy steeds op Hom vertrou? Sal jy aanhou vra, al weet jy dat jou verlede, jou hede en jou nou teen jou tel? As jy “Ja!” kan antwoord, kan jy berus in die wete dat Hy jou krummelgeloof as “groot geloof” sal prys en op die regte tyd en die regte manier jou smeekgebed verhoor.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS