Bible Society of South Africa
Carina Francke

Verhoudinge – Dag 16

Die Here en ek: In teëspoed

Bybelteks(te)

20Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref,

die Here red hom uit almal.

PSALMS 34:20AFR83Maak oop in die Bybelleser

6Dawid was in die nood, want die manne het daaraan gedink om hom met klippe dood te gooi. Almal was verbitterd, elkeen oor sy seuns en dogters, en toe het Dawid hulp gevra by die Here sy God.

1 SAMUEL 30:6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Daar is niemand wat nie een of ander tyd teëspoed in hulle lewe ervaar nie. Sommige blameer God vir hulle ellende, ander gaan sit in sak en as daaroor en ander is haatdraend teenoor diegene wie hulle dink die oorsaak is. Teëspoed is deel van ons lewe in ʼn gebroke wêreld, maar hoe ons daarop reageer, bepaal die invloed daarvan op ons menswees.

Dawid het verskeie kere teëspoed beleef, maar beroep hom telkens op die Here se teenwoordigheid, mag, hulp, of reddingvermoë: “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die Here hom” (Psalm 34:20).

Ons lees in 1 Samuel 30 hoe Siklag, die stad waar Dawid gewoon het toe hy vir Saul gevlug het, met vuur verbrand is en dat al die vroue en kinders weggevoer is deur die Amalekiete. Interessant hoe mense verskillend reageer op hierdie slegte nuus: Die gebroke manskappe wil Dawid stenig terwyl ʼn ewe hartseer Dawid “homself versterk het in die Here sy God” (1 Samuel 30:6).

Hy sit nie op ʼn hopie en vergaan van ellende nie — hy tree op! Die Een wat hom versterk, is sy eerste tree na aksie … mag hy die ontvoerders agternajaag? Met die “Ja!” van God het hy en die manskappe die vyand agternagesit.

God het saam met hulle gewerk.

Op pad het hulle die siek slaaf van ʼn Amalekitiese man gevind wat deel was van die aanval op Siklag. Hulle het hom versorg en in ruil daarvoor het hy hulle na die plek geneem waar die Amalekitiese bende oor die land verspreid was, besig om die buit te vier. Dawid se oorwinning was soet — hy het hulle verslaan, al die vroue en kinders bevry, en alles teruggeneem wat gebuit is.

Hierdie vertelling stel ʼn vraag: Vertrou jy die Here en het jy Hom lief genoeg om jouself in Hom te versterk en Hom te raadpleeg as teëspoed aan jou deur kom klop? Luister jy dan as Hy antwoord, en leef jy in volkome afhanklikheid van Hom? Want dít is jou versterking!

Wanneer iemand hom versterk in die Here, bemoedig hy homself en praat hy letterlik hardop met homself: “Ek sê vir myself: moenie nou moedeloos word nie. Moenie twyfel nie. Waarom so hartseer? Vertrou net op God. Ek gaan hom loof, al kry ek baie swaar. Dit is Hy wat my uit swaarkry red. Ek sal weer vir Hom ʼn loflied sing” (Psalm 42:6, Die Boodskap).

Hierdie alleenspraak is gelaai met positiwiteit — daar is geen plek vir moedeloosheid, twyfel of hartseer nie, want jy vertrou God. Jy loop déúr jou swaarkry, want God is jou metgesel. Jy kom aan die einde van jou swaarkry — steeds met ʼn loflied — want God het jou daaruit gered.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS