Bible Society of South Africa
Carina Francke

Verhoudinge – Dag 15

Draers van goeie nuus: Ek en jy

Bybelteks(te)

6En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met 'n blydskap wat van die Heilige Gees kom.

1 TESSALONISENSE 1:6AFR83Maak oop in die Bybelleser

13Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat julle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys.

1 TESSALONISENSE 2:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

15En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.”

ROMEINE 10:15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Om te getuig is ʼn lewenstyl. Jy is ʼn getuie. Jy lééf jou getuienis, ook wanneer jy nie eens daaraan dink nie (R.E. Coleman). Hierdie is gelaaide woorde, want die ware jy kan net vir ʼn kort rukkie weggesteek bly voordat dit ʼn plek oopbreek na buite.

Die gemeente van Tessalonisense was so ʼn gemeente — hulle het geleef wat hulle in wese was. Hulle geloof was sigbaar in hulle werk; hulle liefde kon nie anders as om in arbeid uiting te vind nie; en hulle volharding was geïnspireer deur onverskrokke hoop wat op Jesus Christus gerig was — die Een vir wie hulle leef en van wie hulle getuig (1 Tessalonisense 1:3). Maar dis nie al nie, ten spyte van verdrukking het hulle lewens voorbeelde geword vir gelowiges in ander dele van die land. Hulle werksplan het egter ook behels dat hulle die woord van die Here verkondig en dat hulle geloof in God vir almal sigbaar geword het (1 Tessalonisense 1:7-8). Hulle was inderdaad draers van goeie nuus in woord en daad.

Gewone mense op ʼn sending.

Wat was die geheim van hierdie onverskrokke en toegewyde leefwyse? Hulle het “navolgers van ons geword” (Paulus en sy medewerkers), maar baie belangriker, hulle was “navolgers van die Here, deurdat julle die woord ontvang het … met die blydskap van die Heilige Gees” (1 Tessalonisense 1:6). Hierdie boodskap was nie die woorde van mense nie, “maar die woord van God wat ook werk in julle wat glo” (1 Tessalonisense 2:13).

Hierdie leefwyse van boodskappers is steeds geldig in ons moderne era. Hoe sal mense weet van redding in Christus as ons lewens nie getuig nie en as ons nie ons stemme gebruik om die goeie nuus te versprei nie? Die waarheid van Romeine 10:15 is steeds van krag: “Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!” Jy hoef nie ʼn predikant te wees om dit te doen nie, jou “kansel” is jou huis, die kantoor, die gemeenskap, die skool, die ry by die kasregister, die karwag.

Die Bybel is baie duidelik waarom die mens hierdie boodskap moet hoor: Almal het sonde gedoen en lewe nie soos God wil hê hulle moet lewe nie (Romeine 3:23); die mens is dood en het nodig om lewend gemaak te word (Efesiërs 2:1); die mens is geskei van God en loop ʼn vernietigende en eensame pad van hooploosheid (Efesiërs 2:12-13).

Hierdie is die goeie nuus: Deur die bloed van Christus Jesus kan enigeen wat ver en verwyderd van God was, naby aan Hom kom (Efesiërs 2:14). Almal wat naby gekom het omdat hulle hierdie boodskap gehoorsaam en geglo het, is ʼn draer en potensiële boodskapper van die Goeie Nuus.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS