Bible Society of South Africa
Carina Francke

Verhoudinge – Dag 14

Draer van goeie nuus: ʼn Losbandige vrou

Bybelteks(te)

26Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.”

JOHANNES 4:26AFR83Maak oop in die Bybelleser

29“Kom kyk, hier is 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?”

JOHANNES 4:29AFR83Maak oop in die Bybelleser

39Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.”

JOHANNES 4:39AFR83Maak oop in die Bybelleser

42en hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”

JOHANNES 4:42AFR83Maak oop in die Bybelleser

In Johannes 4 lees ons van ʼn losbandige vrou met wie Jesus ʼn gesprek begin deur haar vir water te vra. Haar antwoord het daartoe gelei dat Jesus waarhede oor Homself met haar deel, wat haar lewe vir altyd sou verander. Hy ís die lewende water, die fontein in mense se binneste wat die ewige lewe oplewer. Voordat Hy egter van hierdie lewende water vir haar kan gee, moet sy die waarheid oor haar eie lewe en wie sy is erken en besef dat Hy die Messias is, die Christus op wie almal wag. Sy woorde: “Dit is Ek wat met jou spreek!” (Johannes 4:26) spoor haar aan tot aksie. Sy laat val haar waterkruik en hardloop dorp toe om die mense te vertel van dié man wat alles van haar lewe weet: “Kom kyk, ʼn man … Is Hy nie miskien die Christus nie?” (Johannes 4:29).

Let op hoe die dorpsmense op haar getuienis reageer: Hulle gaan uit die stad en gaan na Hom toe (Johannes 4:30) en hulle dring aan dat Hy by hulle moet bly (Johannes 4:40). Aanvanklik het hulle geglo as gevolg van die vrou se getuienis: “En baie van die Samaritane uit daardie stad het in Hom geglo oor die woord van die vrou wat getuig het” (Johannes 4:39). Toe hulle Jesus egter sélf ontmoet en hoor wat Hy sê, verander dit: “Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld is” (Johannes 4:42).

Ek en jy het een opdrag — om die goeie nuus te vertel oor wat Christus in ons eie lewe gedoen het! Geen groot woorde of oortuigingsvermoë is nodig nie, net die eerlike getuienis van wat Hy gedoen het. Dit hoef nie skouspelagtig te wees nie, maar moet vertel van Jesus Christus wat ingegryp het in ons verlorenheid, pyn, siekte, hooploosheid, hartseer, werkloosheid en verdwaasdheid, en sodoende ons lewens verander het.

Soos hierdie vrou is ek en jy net die mense wat ons getuienis bring en dan vooruithardloop na die plek waar Hy vir mense wag. Sy woorde, teenwoordigheid, Hysélf is die bron van mense se diep en onwrikbare geloof. Die voorreg om mense die pad te wys deur die goeie nuus in ons lewe is presies wat dit is — ʼn voorreg. Net die Here kry die eer as mense se lewens daardeur verander word.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS