Verhoudinge – Dag 13
Draer van goeie nuus: ʼn Dogtertjie
Bybelteks(te)
2 KONINGS 5
2 KONINGS 5
Mensehandel is seker een van die grootste onregte teenoor mense. Die slagoffers word van hulle vryheid, bekende omgewing en eie mense weggeruk om in vreemde en dikwels haglike omstandighede ʼn blote bestaan te voer. Volgens Nicolas Kristof, medeskrywer van die boek, Half the Sky, is hedendaagse slawerny so ʼn moreel laakbare bedryf dat dit vergelyk kan word met die Afrika-slawehandel van die 18de en 19de eeu.
In die antieke beskawing was slawerny ʼn algemene wanpraktyk onder nasies, en daarom is die verhaal van ʼn klein dogtertjie wat uit haar land weggevoer is en die dienares van die hoof van die Aramese leër se vrou geword het, so merkwaardig (2 Konings 5).
Die melaatsheid van Naäman, haar meesteres se man, het hierdie jong kind aangegryp: “Ag, was my heer maar net by die profeet wat in Samaria is, dan sou hy sy melaatsheid wegneem” (2 Konings 5:3). Met die goedkeuring van die koning vertrek Naäman onmiddellik na Israel om hierdie man wat hom kan genees op te spoor. Die opdrag van die profeet was duidelik en eenvoudig — hy moet homself sewe keer in die Jordaanrivier gaan was — ʼn baie teleurstellende en vernederende opdrag vir Naäman. Hy weier om dit te doen, maar sy dienaars oortuig hom om dit ten minste op die proef te stel. Na die sewende keer is die resultaat presies soos die profeet gesê het — “sy vlees het teruggekeer soos die vlees van ʼn jong seun, en hy het rein geword” (2 Konings 5:14). Die gevolg? Hy was so geweldig beïndruk met die God van Elisa dat hy in Hom begin glo het en onderneem het om voortaan brandoffer slegs aan die Here te bring (2 Kon 5:17).
ʼn Klein dogtertjie, wat weens haar omstandighede rede gehad het om in sak en as te leef, word die draer van die goeie nuus van redding en genesing! In die huis van haar vyand wys sy hoe geloof lyk; hoe dit lyk as jy in ʼn gesonde verhouding met selfs jou gevangenemer kan leef. Dit was moontlik omdat sy Elisa se God geken het — die God van die onmoontlike!
Miskien moet ons onsself meer dikwels afvra: Kan ék ook ʼn verskil maak as ek my in ongunstige omstandighede bevind, saam met moeilike mense moet leef of werk, en onregverdig behandel word? Is my geloof in God en sy vermoë so sterk dat ek gewillig is om te praat? Lééf ek vergifnis? Kan ek onbeskaamd en sonder vrees aan enigiemand in nood sê: “As u maar net by Hom kon wees wat my lewe ook verander het”?