Bible Society of South Africa
Carina Francke

Verhoudinge – Dag 12

Draers van goeie nuus: Melaatses

Bybelteks(te)

4As ons sou besluit ons wil in die stad ingaan, sal ons daar doodgaan, want daar is hongersnood in die stad. Bly ons hier, is ons ook dood. Kom ons loop oor na die kamp van die Arameërs toe! As hulle ons laat leef, leef ons; as hulle ons doodmaak, is ons dood!”

2 KONINGS 7:4AFR83Maak oop in die Bybelleser

9Hulle sê toe vir mekaar: “Ons maak nie reg nie. Vandag is 'n dag vir blydskap en ons bly stil! As ons wag tot ligdag, sal ons beslis gestraf word. Kom ons gaan vertel dit by die paleis van die koning.”

2 KONINGS 7:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Goeie nuus is altyd welkom, maar veral wanneer dit dit ʼn pad oopbreek deur ʼn vesting van slegte nuus wat net hooploosheid en dood verkondig.

2 Konings 6:24 — 2 Konings 7 vertel van die hongersnood wat die onvermydelike lot van die inwoners binne die stad Samaria was nadat die Arameërs dit beleër het. Geen kos- en watervoorrade kon van buite aangevul word nie en beskikbare kos was onbekostigbaar.

Hierdie gedeelte vertel egter ook hoe verskillende mense in ʼn krisis reageer en hoe diegene van wie jy dit die minste verwag, as helde uit ʼn krisis stap.

Die koning is moedeloos en sien geen uitkoms nie. Hy wil die profeet Elisa om die lewe bring en blameer God vir hulle ellende. Sy offisier deel sy pessimisme — hy reageer snedig en sinies op die boodskap van hoop dat uitkoms op pad is.

Die profeet Elisa, aan die ander kant, vertrou God en het sy belofte aan die koning en sy offisier gegee dat daar binne ʼn dag kos in die stad sal wees. Laasgenoemde grynslag oor die nuus.

Onbewus van hierdie nuus binne die stad, besluit vier uitgeworpe melaatses aan die buitekant van die stadspoort om iets aan hulle eie lot te doen, eerder as om op die dood te sit en wag. Teen skemer besluit hulle om na die Arameërs te gaan en te aanvaar wat met hulle gaan gebeur: “Laat ons oorloop na die laer van die Arameërs. As hulle ons laat leef, leef ons; as hulle ons doodmaak, is ons dood!” (2 Konings 7:4).

Hulle kon hulle geluk nie glo nie — die soldate het gevlug en die kamp net so gelos! Daar was kos in oorvloed en die vier mans het van tent tot tent gegaan en gulsig geëet, gedrink en gevat wat hulle wou, totdat hulle besef het: “Ons doen nie reg nie. Hierdie dag is ʼn dag van goeie boodskap, en ons bly stil! As ons vertoef tot môrelig toe, dan sal ons skuldig staan. Kom dan nou, laat ons gaan en dit in die huis van die koning vertel” (2 Konings 7:9).

Hulle word die helde van die verhaal! Hulle is die draers van die goeie boodskap, ʼn reddingsboodskap: God is die wonderbaarlike Voorsiener en oorwinnende Krygsman van die oorlog!

Ek en jy het ook ʼn keuse hoe ons ernstige krisisse hanteer. Die natuurlike geneigdheid is om ʼn sondebok te soek, God te blameer en om negatief te dink en te praat. Soms moet ons ons harte en gebede “oorgee” aan die moontlike kant van hoop om onsself te herinner aan waartoe God in staat is. Daarna moet ons omdraai en die goeie boodskap vir onsself en ander vertel: God kán! Hy hét reeds! Hy is die Outeur van goeie nuus!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS