Bible Society of South Africa
Carina Francke

Verhoudinge – Dag 11

Rolspelers in jou lewe: Die Heilige Gees

Bybelteks(te)

16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

JOHANNES 14:16-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

13Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.

JOHANNES 16:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer menslike rolspelers ons soms faal, is dit geen rede om op ʼn hopie te sit en wonde te lek nie, want die grootste rolspeler in enige gelowige se lewe is die onfeilbare, ewig teenwoordige Heilige Gees. Hy is die Parakletos, die Een geroep langs jou, of soos ons Hom ken, die Trooster wat deur die Vader en Jesus self gestuur is aan elkeen wat Jesus volg.

“En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ʼn ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees” (Johannes 14:16-17; 16:7).

Jy is nooit sonder die teenwoordigheid van die Heilige Gees as jy daagliks volgens die waarhede van Johannes 14 leef nie:

Jy glo in God én in Jesus (vers 1); jy glo dat Christus in die Vader en die Vader in Christus is (vers 11); jy glo én leef vanuit Christus wat die weg, waarheid en lewe is (vers 6); en jy het Christus lief, daarom bewaar jy sy woord en gebooie (vers 15,21,23). Kan jy nou verstaan waarom dit vir jou en my moontlik is om in ʼn intieme verhouding met die Godheid te leef?

Die onsekerheid en werklikheid dat ons net ʼn deel van hierdie kant van die lewe ken, sowel as die talle teenstrydighede in die lewe waarmee ons gekonfronteer word, kan baie onstellend wees. Nogtans kan ons rus in die wete dat die Heilige Gees se betrokkenheid in ons lewens in alle opsigte betroubaar is:

Hy bly by jou en in jou (Johannes 14:17); daarom weet Hy presies wat jy voel en dink, Hy ken jou onsekerhede en vrese, asook jou worstelvrae oor wat werklik waarheid is in ʼn stukkende wêreld. Om hierdie rede kan Hy jou lei in alle waarheid (Johannes 16:13) — as jy Hom toelaat.

Hy sal jou alles leer en sal jou herinner aan alles wat Jesus vir sy dissipels gesê het (Johannes 14:26).

Hy sal jou leer van die dinge wat jy nog nie weet nie: “Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nie nou dra nie. Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei … en die toekomstige dinge aan julle verkondig” (Johannes 16:13).

Jy moet ook onthou dat die Heilige Gees die letter van die Woord in ʼn kragtige wapen verander wat jou in staat stel om saam met die res van die wapenrusting enige aanval van die magte van duisternis te weerstaan. Verder stel dit jou in staat om staande en op jou pos te bly (Efesiërs 6:13,17).

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS