Bible Society of South Africa
Ds Hein Barnard

Vergifnis – Dag 12

Daniël was in Babilon en het die boekrol van die profeet (2) Jeremia gelees. Hy was in ballingskap met God se volk en het gelees dat dit 70 jaar sou duur. Soos oudergewoonte het hy tot God om vergifnis gebid — vir homself en vir sy volk.

Bybelteks(te)

Daniël bid om vergifnis vir sy volk; die einde van die verdrukking word aangekondig

1Dit was in die eerste regeringsjaar van Darius seun van Ahasveros. Hy was van geboorte 'n Mediër maar het koning geword oor die Galdese ryk. 2In sy eerste regeringsjaar het ek, Daniël, uit die Skrifte vasgestel dat volgens die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het, Jerusalem sewentig volle jare 'n puinhoop sou wees. 3Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking: ek het gevas, rouklere aangetrek en as oor my kop gegooi.

4Ek het tot die Here my God gebid en bely: “Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam. 5Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie. 6Ons het nie geluister na u dienaars die profete nie, wat in u Naam ons konings, ons leiers, ons familiehoofde en die hele bevolking aangespreek het. 7U is regverdig, Here. Dit is onsself wat hierdie ellende oor ons gebring het, oor die mense van Juda, oor die inwoners van Jerusalem, oor die hele Israel, dié wat naby is sowel as dié wat ver is, ver in al die lande waarheen U hulle verstrooi het oor hulle ontrou teenoor U. 8Here, hierdie ellende het oor ons, oor ons konings, oor ons leiers en oor ons familiehoofde gekom omdat ons teen U gesondig het. 9Maar U, Here ons God, bewys barmhartigheid en U vergewe, al was ons opstandig teen U.

10“Ons was nie aan U, Here ons God, gehoorsaam nie, ons het nie volgens u wil gelewe nie, u wil wat U deur u dienaars, die profete, aan ons gegee het. 11Die hele Israel het u wil oortree; hulle het afvallig geword en nie na U geluister nie. Daarom het U die vloek wat met 'n eed bevestig is en wat opgeteken is in die wet van Moses, die dienaar van God, oor ons laat kom. Dit is omdat ons teen U gesondig het. 12U het die woorde wat U in verband met ons en ons regeerders uitgespreek het, in vervulling laat gaan en hierdie groot onheil oor ons gebring. Daar het nog nooit op die aarde so iets gebeur soos in Jerusalem nie. 13Al hierdie onheil het oor ons gekom net soos dit geskryf staan in die wet van Moses; tog het ons, Here ons God, nie ons saak met U reggemaak deur ons van ons sonde te bekeer en in te sien dat U doen wat U sê nie. 14Daarom het U ons hierdie onheil nie gespaar nie maar dit oor ons gebring. Here ons God, U is regverdig in alles wat U doen, ons het nie na U geluister nie.

15“Here ons God, U het u volk deur u groot mag uit Egipte gelei en daardeur u Naam groot gemaak soos dit vandag nog is. Maar ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen. 16Here, U het reddingsdade gedoen, neem tog u toorn en u woede weg van Jerusalem, u stad, u heilige berg, want deur ons sonde en deur die oortredinge van ons voorvaders spot almal rondom ons nou met Jerusalem en met u volk. 17Ter wille van Uself, hoor tog my gebed en smeking, en verskyn tog tot redding van u verwoeste heiligdom. 18Luister tog, my God! Hoor ons tog! Sien tog ons verlatenheid raak, en dié van die stad waaroor u Naam uitgeroep is. Ons pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid. 19Hoor, Here! Vergewe, Here! Gee tog ag op ons en tree op! Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God. U Naam is oor u stad en oor u volk uitgeroep.”

DANIËL 9:1-19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vergifnis in die Profete – 2

Daniël het gebid vir die herstel van Juda, Jerusalem en al die Israeliete in die Beloofde Land. Vas en rou was deel van die belydenis van sonde. Hy het erken wie God is en in vers 5 met hierdie belydenis begin. In vers 9 erken hy dat hy en die volk nie na God geluister het nie en na God se genade roep om sy volk te vergewe. Hy herinner God aan die uittog (15) uit Egipte en bid nou vir ʼn uittog uit Babilon.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS