Bible Society of South Africa
Ds Hein Barnard

Vergifnis – Dag 11

Dit is een van die hoofstukke wat die meeste gelees word in Jeremia. God belowe Israel (Israel en Juda) dat hulle weer sy volk sal wees (1-14), Hy sal hom ontferm oor die vermoeide Israel (15-26) en Hy sal hulle veilig hou (27-30). Belangrik: God neem die leiding, nie Israel nie.

Dit is ʼn bevestiging van die verbond wat God met Abraham gesluit het — Genesis 17.

Bybelteks(te)

31Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda 'n nuwe verbond sal sluit. 32Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. 33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34'n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

35So sê die Here,

Hy wat die son bedags laat skyn,

die maan en sterre beveel om snags te skitter,

Hy wat die see onstuimig laat word, wat sy golwe laat druis,

wie se Naam Here die Almagtige is:

36Eers as hierdie dinge uit my teenwoordigheid verdwyn, sê die Here, sal die nageslag van Israel ophou om vir altyd in my teenwoordigheid 'n nasie te wees.

37So sê die Here:

As die hemel daarbo afgemeet kan word

en as die fondamente van die aarde daaronder vasgestel kan word,

sal Ek die hele nageslag van Israel verwerp

oor alles wat hulle gedoen het, sê die Here.

38Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat hierdie stad vir My herbou sal word van die Gananeltoring af tot by die Hoekpoort. 39Die maatlyn sal van daar af reguit loop tot by die Garebheuwel en dan sal dit swaai na Goa toe. 40Die hele dal waar lyke en as weggegooi word, en al die terrasse tot by Kedronspruit en ooswaarts tot by die Perdepoort sal aan die Here gewy wees. Dit sal nooit weer uitgeruk of platgeslaan word nie.

JEREMIA 31:31-40AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vergifnis in die Profete – 1

Israel en Juda het in ballingskap gegaan, maar slegs Juda het na 70 jaar uit Babilon teruggekeer. Diegene in ballingskap moes versoen word met diegene wat in die beloofde land agtergebly het. Daar kan slegs versoening wees tussen mense as hulle met God versoen. Dit sluit vergifnis in.

Die voorwaardes vir die verhouding met God is dieselfde, maar dit sou nie op klippe geskryf word nie, maar in die harte en gedagtes van mense.

Hierdie verbond sou lei tot ʼn geestelike transformasie van die mense en word dikwels geassosieer met die gawe van die Heilige Gees.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS