Bible Society of South Africa
Ds Hein Barnard

Vergifnis – Dag 10

Hierdie psalm is deel van die groep psalms wat deur die pelgrims gesing is op pad na en van die tempel in Jerusalem. Dit is ʼn individuele klaaglied waarin die psalmis berou het en sy vertroue in God se genade uitspreek.

Bybelteks(te)

Ek wag op die Here

1'n Pelgrimslied.

Uit die dieptes roep ek na U, Here,

2luister tog na my, Here,

hoor tog my hulpgeroep.

3As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here,

wie sou dan nog bestaan?

4Maar by U ís daar vergifnis:

daarom word U steeds gedien.

5Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom,

ek wag op die vervulling van sy woord.

6Ek wag op die Here

meer as wat die wagte op die môre wag,

wagte op die môre.

7Wag op die Here, Israel,

want by die Here is daar troue liefde,

by Hom is die verlossing seker.

8Hy alleen sal Israel verlos

van al sy sondes.

Vergifnis in die Psalms – 3

Die impak van sonde is dat dit die gelowige van God vervreem. Wanneer dit gebeur het die gelowige ʼn intense begeerte om hierdie gebroke verhouding met God te herstel. Voordat die Israeliet sy offer aan die Here in die tempel kon bring, moes hy die sondes van sy verstand, mond en hande bely. Sommige mense het hierdie psalm gekoppel aan die groot versoendag in Levitikus 16.

Die pelgrim vra om hulp in die eerste twee verse, gevolg deur die erkenning en versekering in vers 3 en verder dat dit slegs God is wat die gelowige kan vergewe en vrymaak.

Hierdie psalm verwys na individuele en nasionale vergifnis.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS