Skatkis van wysheid – Dag 4


Die vrees van die Here
Bybelteks(te)
SPREUKE 1
“Kennis begin met die dien van die Here …” Spreuke 1:7 (1983-vertaling)
“Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis …” Spreuke 1:7 (1953-vertaling)
Elke mens wat daagliks rekening hou met God, is werklik wys. Deur hierdie wysheid bereik die lewe sy doel – en hierdie doel lê in God. Baie verstand is ʼn seën, maar wanneer dit nie in diens van hierdie doel staan nie, kan dit ʼn vloek word. Krag en mag kan ʼn seën wees, maar wanneer dit nie in diens van hierdie doel staan nie, kan dit dood en verderf saai. ʼn Dokter kan kundig wees, maar bereik een of ander stadium ʼn punt waar hy of sy nie meer kan doen nie. Die diepste geheim van die lewe en dood bly onbereikbaar vir die mees geleerde mens, maar word vir die eenvoudigste gelowige verstaanbaar wat uit die woord van die Here leef.
In Spreuke staan die wyse teenoor die dwaas. Wie is die dwase? Is dit mense met tien duime? Kan hulle nie tot tien tel nie? Nee, ʼn dwaas kan ʼn uiters bekwame mens wees, maar dit is iemand wat nie met God rekening hou nie. ʼn Dwase mens vind die wet van God soos ʼn juk wat knel. Dwase mense stel hul eie wette en norms op.
Vanuit onsself is elke mens dwaas. Gelukkig, as ons dit self insien en ons dwaasheid as skuld bely, dan is daar genesing vir ons. Die deure van die leerskool van God staan vandag steeds oop. Dit nooi ons uit om binne te gaan. Begin deur die Bybel te lees. Maak dit persoonlik en biddend om die seën van die Here te ontvang.
Miskien doen jy dit nie meer nie of net wanneer jy daarby uitkom. Begin om dit anders te doen. Op hierdie manier wil God ook vir jou van sy wysheid en kennis gee.
Wanneer mense iets van hierdie wysheid ontvang, kan hulle dit nie vir hulleself hou nie. Ware wysheid bring ʼn mededeelsaamheid. Wyse mense kan nie anders as om daarvan te getuig nie.
So wag daar vir ons in hierdie tye ʼn groot taak om die wysheid van God te verkondig in ʼn wêreld vol dwaasheid.