Skatkis van wysheid – Dag 22


As ek swak is, is ek sterk
Bybelteks(te)
SPREUKE 30
2 KORINTIËRS 12
“Dassies het nie veel krag nie en tog maak hulle hulle tuis teen die kranse.” Spreuke 30:26
Dit is hoegenaamd nie te sê dat dit wat groot is meer betekenis het as dit wat klein is nie. Ook nie dat dit wat klein is minder waarde sou hê as dit wat groot is nie. Die teenoorgestelde is dikwels waar.
Agur noem vier klein diere, naamlik miere, dassies, sprinkane en geitjies (vers 24-28). Volgens hom het hulle ʼn geheim waarvan hy ons wil vertel.
Agur sê die dassies is ʼn “magtelose volk” (1953-vertaling). In hul wysheid het hulle hul skuilplekke in die kranse en skeure gemaak. Daar is hulle beskerming teen die roofdiere en roofvoëls.
Dassies maak hulle nie aan volstruispolitiek skuldig deur te dink hulle is sterk, terwyl hulle eintlik kwesbaar is nie. Hulle is realisties, erken hul swakheid, en hou daarmee rekening.
Dit is ook vir ons van belang dat ons na ons eie swakheid kyk. Ons wil nie magteloos wees nie. Ons streef na mag. Daarom moet ons na die klein diere kyk. Ons is dwaas om te dink dat ons magtig is. Ons is mense wat teen God gesondig het en is magteloos om die goeie te doen. Ons is magteloos teen die aanvalle van die bose.
Wat doen die dassies? Hulle keer gereeld na hul skuilplek tussen die klippe en skeure terug. Dan is hulle veilig.
Die vraag is nou: Waar vind ons ʼn skuilplek teen die sonde en die bose? Waar anders is ons veilig as by die Here ons God? Dit is opvallend hoe dikwels die Here met ʼn rots vergelyk word. In sy genade wil Hy vir ons ʼn rots wees waar ons kan skuil.
Die geheim van ʼn gelowige is die geheim van die dassie. In ons self is ons swak, maar in God – ons Rots – is ons sterk. Paulus ken hierdie geheim. Vroeër was hy in sy oë sterk, maar toe hy deur Christus neergevel is, het hy magteloos geword. Christus het daarna sy lewenskrag geword en Paulus se lewensraad het geword: “… want as ek swak is, is ek sterk.” (2 Korintiërs 12:10) Daarom het hy as ʼn oorwinnaar in die gevangenis sit en nie as iemand wat verslaan is nie.