Skatkis van wysheid – Dag 1

Die vrees van die Here

Bybelteks(te)

SPREUKE 1

7Kennis begin met die dien van die Here;

dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.

1 KONINGS 3

Salomo se raad aan twee prostitute

16Op 'n keer het twee prostitute met 'n saak na die koning toe gekom.

17“U Majesteit,” sê die een vrou, “ek en hierdie vrou woon in dieselfde huis, en sy was by toe ek 'n kind in die wêreld gebring het. 18Drie dae daarna het sy ook 'n kind gekry. Ons was saam in die huis en daar was niemand anders nie; net ons twee was daar. 19Een nag is hierdie vrou se seuntjie dood; sy het hom doodgelê. 20Sy staan toe in die middel van die nag op en vat my seuntjie langs my weg terwyl ek slaap, en lê hom by haar neer, en haar seuntjie wat dood is, lê sy by my neer. 21Toe ek die môre opstaan om die kind te laat drink, toe is hy dood! Maar toe ek hom later in die môre goed bekyk, is dit nie my baba nie.”

22Toe sê die ander vrou: “Nee, die een wat lewe, is myne. Dis jou seuntjie wat dood is!”

En die eerste vrou sê: “Dis jou seuntjie wat dood is! Die een wat lewe, is myne!”

So het hulle voor die koning gestaan en stry.

23Die koning redeneer toe by homself: die een sê: “Die seuntjie wat lewe, is myne, joune is dood,” en die ander sê: “Nee, jou seuntjie is dood; die een wat lewe, is myne.”

24Toe beveel die koning: “Bring vir my 'n swaard!”

Hulle het die swaard gebring, 25en die koning het gesê: “Sny die kind wat lewe in twee stukke en gee vir elkeen van hulle 'n helfte!”

26Maar die ma van die kind wat lewe, begin toe by die koning smeek, want haar hart het inmekaar gekrimp oor die lot van haar baba, en sy sê: “Asseblief, U Majesteit, gee die seuntjie wat lewe vir haar, moet hom tog net nie doodmaak nie.”

Maar die ander vrou sê: “As ek hom nie kry nie, kry jy hom ook nie. Sny hom deur!”

27Toe sê die koning: “Moenie die kind doodmaak nie, maar gee hom vir die een dáár, sý is die ma!”

28Die hele Israel het gehoor van die uitspraak wat die koning gelewer het, en hulle het hoë agting vir die koning gekry, want dit het vir hulle duidelik geword dat hy van God self wysheid ontvang het om regsake uit te wys.

1 KONINGS 3:16-28AFR83Maak oop in die Bybelleser

1 KONINGS 4

Salomo se wysheid

29God het aan Salomo baie groot wysheid en verstand gegee en insig in soveel sake as wat daar sand aan die see is.

1 KONINGS 4:29AFR83Maak oop in die Bybelleser

1 KONINGS 10

7Ek het nie geglo wat hulle vir my gesê het nie totdat ek gekom en myself oortuig het. Nou weet ek dat nie eers die helfte vir my vertel is nie. U het alles wat ek oor u wysheid en voortreflikheid gehoor het, ver oortref.

1 KONINGS 10:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Kennis begin met die dien van die Here …” Spreuke 1:7 (1983-vertaling)

“Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis …” Spreuke 1:7 (1953-vertaling)

In Gibeon staan ʼn jong man op sy knieë. Dit is koning Salomo. Hy bid tot die Here vir wysheid om sy volk te regeer. God gee hom die wysheid op so ʼn besondere manier dat die wysheid van Salomo tot vandag toe spreekwoordelik is. Met sy eerste regspraak blyk sy wysheid al: “Toe beveel die koning: ‘Bring vir my ʼn swaard!’ Hulle het die swaard gebring, en die koning het gesê: ‘Sny die kind wat lewe in twee stukke en gee vir elkeen van hulle ʼn helfte!’ ” (1 Konings 3:16-28)

In 1 Konings 4:29 lees ons: “God het aan Salomo baie groot wysheid en verstand gegee en insig in soveel sake as wat daar sand aan die see is.” Ons lees ook dat Salomo drieduisend spreuke en meer as ʼn duisend liedere geskryf het. Salomo se roem het oor die hele wêreld bekend geword. Selfs die koningin van Skeba het daarvan gehoor en hom besoek. In 1 Konings 10:7 sê sy: “Nou weet ek dat nie eers die helfte vir my vertel is nie.”

In die Bybel is Salomo ook die skrywer van Spreuke, Prediker en Hooglied. Spreuke bevat ʼn skatkis van wysheid waaroor ek in hierdie maand wil gesels. Dit kan met ʼn snoer pragtige pêrels vergelyk word soms in die vorm van beeldspraak en soms direk. Die spreuke kan op ons alledaagse lewe toegepas word. Salomo staan met sy voete op die grond terwyl sy hart van die openbaring van God getuig. Onthou, God het hom hierdie wysheid gegee. Hy praat nie as ʼn sedeprediker nie, maar soos ʼn vader wat sy seun of dogter onderrig.

Sy spreuke raak alle situasie en fasette van die lewe: die huwelik, die gesin, die lewe van jongmense, werk, eet en drink. Oor al hierdie situasies laat Salomo die lig van God se openbaring skyn en lei op so ʼn manier die leser op die pad van die lewe.

Bible Society of South Africav.4.29.1
VOLG ONS