Skatkis van wysheid – Dag 15


ʼn Mens se hart
Bybelteks(te)
SPREUKE 4
“Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Spreuke 4:23
Die hart van ʼn mens is die sentrum van daardie persoon. Dit is die setel van sy of haar wil, denke en gevoelens. ʼn Mens se lewe word vanuit jou hart regeer. Baie uitdrukkings word met hierdie betekenis bedoel. Dink maar aan die volgende uitdrukkings: iets van harte doen; om hartlik teenoor mekaar te wees; ʼn hart te hê vir iets; iets ter harte neem; iemand se hart te verower; en bid vir ʼn nuwe hart. In al hierdie uitdrukkings is die hart die kern van die persoon. Die uitdrukking in ons oë verraai gewoonlik wat in ons harte aangaan.
Die Here wil ons hart verander, want daaruit word die hele lewe vernuwe. Eens in die paradys het ons hart aan God behoort. Maar toe het ons dit teruggeneem en ons hart van God afgekeer. Dit is ons hartkwaal. Ons hart is nie meer op God gerig nie, ons hart is in ons geld, ons naam, ons eer. Ons vul eerder ons hart met jaloesie, onverskilligheid en ontevredenheid.
God wil ons hart vernuwe. Dit is ʼn wonder dat Hy dit nog wil doen. ʼn Mens sou verwag dat God niks meer met ons te doen wil hê nie. Laat ons dan vir die Here sê: As U nog my hart wil hê, neem dit. Neem my kliphart en gee my ʼn hart van vlees, sodat my hart u woning kan wees.
God het sy eie hart gegee. Hy het sy hart vir my en jou gegee toe Hy sy Seun aarde toe gestuur het. Wat ʼn onpeilbare liefde vir sondige mense! Laat sy geskenk ons aanspoor om uit wederliefde ons hart vir Hom te gee.
As ʼn man sy halwe hart aan sy vrou gee, is dit nie opregte liefde nie. Dit is kwalik liefde. So is dit ook kwalik liefde as ons ʼn gedeelte van ons hart vir God gee. Hy wil ons hele hart hê, die sentrum van ons lewe.