Rig jou geloofsoog op Hom – Dag 2
Wees dankbaar vir verhoudings
Bybelteks(te)
2 KORINTIËRS 1
Die begin van Paulus se tweede brief aan die gemeente in Korinte getuig van ʼn diep verhouding tussen hulle. Hulle is so nou verbonde dat wat ookal met die een gebeur, gebeur met almal. Dit is nogal verrassend, want lees ʼn mens verder, besef jy dat dié verhouding erg gespanne was. Dit laat ʼn mens wonder hoe mense wat soms duidelik van mekaar verskil het, teleurgesteld was in mekaar, en selfs kwaad was vir mekaar tog kon sê: “En ons hoop vir julle is vas.” (2 Korintiërs 1:7a; 1933/1953-vertaling)
Die antwoord lê daarin dat goeie verhoudings nie noodwendig beteken dat ons oor alles moet saamstem nie, maar wel dat ons mekaar in die najaag van ʼn gemeenskaplike doel sal respekteer. Ons kies nie altyd ons medewerkers, die mense wat saam met ons op verskeie komitees dien, of selfs ons medelidmate in ons gemeente nie – baie soos die Korintiërs wat nie vir Paulus as hulle apostel gekies het nie en Paulus het ook nie diegene wat tot bekering gekom het gekies nie. Baie van ons verhoudings is nie gebaseer op hoeveel ons van mekaar hou nie, maar wel op die behoefte om saam te werk om ʼn gemeenskaplike taak te kan uitvoer.
Hoe moeiliker dinge raak, hoe belangriker is goeie verhoudings.
Wanneer Paulus vir die gemeente in Rome skryf, maak hy dit duidelik in Romeine 15:30 dat ons nie goeie verhoudings deur net vaardighede en metodes kan bou nie: “Stry saam met my deur vir my te bid.”
Wat ons bo alles nodig het, is hulp van God. Om vir mekaar te bid is die hoeksteen van goeie verhoudings.
Hoeveel belê ons in ons verhoudings met ons kollegas? Gee ons genoeg om vir hulle om vir hulle te bid? Leer ons hulle goed genoeg ken sodat ons doelgerig vir hulle kan bid? Laat ons mense toe om ons te leer ken sodat hulle vir ons kan bid?