Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Pinkstertyd – Dag 7 (1 Julie)

God se Gees gebruik die Bybel in onseker omstandighede

Bybelteks(te)

105U woord is die lamp wat my die weg wys,

die lig op my pad.

PSALMS 119:105AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Emmausgangers

13Op dieselfde dag was twee van hulle op pad na 'n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af. 14Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. 15Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop, 16maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. 17Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?”

Met somber gesigte gaan hulle staan, 18en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?”

19Hy vra vir hulle: “Watter dinge?”

Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, 'n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk; 20en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het. 21Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. 22En nou het 'n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf 23en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle 'n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. 24Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.”

25Toe sê Hy vir hulle: “Wat 'n gebrek aan begrip en wat 'n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? 26Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?”

27Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.

28Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. 29Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.”

Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. 30Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. 31Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. 32Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”

33Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar, 34en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!”

35Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het.

LUKAS 24:13-35AFR83Maak oop in die Bybelleser

As dinge in die lewe nie uitwerk soos wat ons gehoop of beplan het nie is dit menslik om op ʼn stadium moedeloos te raak. Soms kan ons omstandighede skielik verander. Dan lyk die lewe sommer donker en onseker. Ons voel soms soos daardie twee manne wat op pad na Emmaus teleurgesteld sê: “Ons het so gehoop …” Dit is verby, hulle hoop is verpletter.

Dan begin Jesus saam met hulle stap. En waar begin Jesus om hulle weer hoop te gee? Hy begin by die Bybel. Hy praat met hulle oor die Skrifuitsprake wat op Hom van toepassing is. Soos hulle verder loop word hulle harte weer warm, met ander woorde, hulle kry weer hoop. Al word dit skemer rondom hulle, is daar weer lig in hulle lewe.

Hierdie gedeelte bevestig net weereens vir ons watter onskatbare waarde die Bybel vir ons het. Waar mense oor die Bybel praat, kom daar weer hoop – daar kom weer lig in die duisternis. Psalm 119:105, byvoorbeeld, bevestig dit: “U woord is ʼn lamp vir my voet en ʼn lig vir my lewenspad”. Let wel, daar is nie sprake van ʼn lig daar ver voor in die tonnel nie, maar wel hier by jou, voor jou voete sodat jy die volgende tree kan gee. Dit verseker ons van God se teenwoordigheid. Hy is saam met ons op ons lewenspad. God wag nie net vir ons eendag in die hemel nie. Deur sy Woord en Gees stap God saam met ons deur die lewe.

Dit is noodsaaklik dat mense hierdie wonderlike boodskap sal hoor, want God se Gees gebruik die Bybel om lig te bring in onseker tye. Lees en oordink dit gereeld en praat met ander daaroor. Deur sy Woord maak God se Gees ons harte warm en kom ons hoop weer terug. Wat ons omstandighede ook al mag wees, mag ons altyd die warmte van die Here se teenwoordigheid en die lig van sy Woord op ons lewenspad ervaar.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS