Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Pinkstertyd – Dag 6 (30 Junie)

God se Gees bring hoop deur sy Woord

Bybelteks(te)

4Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. 5En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. 6Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.

Die evangelie is vir alle mense

7Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. 8Ek bedoel dít: Christus het gekom om in belang van die Jode 'n dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak. 9Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik, soos daar geskrywe staan:

“Daarom sal ek U loof voor die nasies,

en tot eer van u Naam sal ek 'n lofpsalm sing.”

10En elders lui dit:

“Verbly julle, ander nasies,

saam met sy volk.”

11En:

“Prys die Here, alle nasies!

Loof Hom, alle volke!”

12En Jesaja sê ook:

“Isai sal 'n nakomeling hê,

en Hy sal opstaan om die nasies te regeer;

op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”

13Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

ROMEINE 15:4-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Geen mens kan sonder hoop lewe nie. Die grootste waarde van die Bybel is dat dit God se manier is om die hoop binne ons lewend te hou, want deur die Bybel leer ons vir God, die Bron van hoop, ken. Die Bybel herinner ons aan waar ons hoop vandaan kom. Wanneer ons dus die Bybel met hierdie doel voor oë gebruik, moet ons dit doen om die hoop wat God vir ons deur sy Woord wil gee, daarin te soek en te vind.

Volgens die Skrifgedeelte is hoop die gevolg van twee belangrike lesse wat ons uit die Skrif leer. Die eerste is standvastigheid. Dit wil sê, om aan te hou glo en op God te vertrou, ten spyte van jou omstandighede. Wanneer ons die Bybel lees, vind ons talle voorbeelde van mense wat swaarkry. As daar dus op die oomblik een of ander vorm van lyding in ons lewe is, moet ons dit nie sien as ʼn straf van die Here nie. Dit is deel van ʼn kind van die Here se lewe. Swaarkry gaan verby, maar daar is altyd hoop.

Die tweede les wat ons uit die Skrif leer is bemoediging. Dit wil sê, dat die Bybel ook die instrument is waardeur God vir ons krag wil gee om deur die moeilike tye in die lewe te kom. Die fout wat mense maak wanneer hulle swaarkry is om op te hou Bybel lees en kerk toe te gaan. Dit is egter belangrik om ons juis in sulke tye te verdiep in God se Woord en daaruit die krag te put wat God vir ons wil gee.

Die Bybel is nie bedoel om ʼn boek vol reëls en wette te wees wat ons moedeloos maak nie. God wil nie deur die Bybel verdere skuldgevoelens op ons laai nie. Jesus Christus het ons daarvan kom bevry. Jesus Christus het ons kom wys dat God ʼn God van liefde en genade is wat vergewe. Hierdie beeld van God straal vir ons uit die Skrif.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS