Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Pinkstertyd – Dag 8 (2 Julie)

God se Gees laat ons getuig in die wêreld

Bybelteks(te)

24Daarom is die hand deur Hom gestuur en is hierdie woorde geskrywe.

25“Dit is die woorde wat geskrywe is: ‘Getel, getel, geweeg en verdeel.’ 26En dit is die betekenis van die woorde: ‘Getel’: God het die jare van u koningskap getel en 'n einde daaraan gemaak. 27‘Geweeg’: u is geweeg en te lig bevind. 28‘Verdeel’: u koninkryk is verdeel en aan die Mediërs en die Perse gegee.”

29Daniël is toe op bevel van Belsasar 'n koninklike kleed aangetrek en 'n goue halsketting omgehang, en hy is uitgeroep as regeerder, derde in rang in die koninkryk.

30Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs vermoor.

DANIËL 5:24-30AFR83Maak oop in die Bybelleser

Soms voel ʼn mens net lus om jouself te onttrek aan ʼn situasie. Jy voel jy het genoeg gehad van al die korrupsie en onregverdigheid, of jy kan nie meer die pyn wat mense jou aandoen hanteer nie. Die verhale van Daniël is bedoel om God se kinders te bemoedig te midde van ʼn korrupte en agteruitgaande samelewing. Daniël en sy vriende dien as voorbeelde van die verskil wat God se kinders kan maak onder mense wat eintlik soekend en bang is.

Die verhaal in Daniël 5 wil eerstens vir ons skets hoe verwaand en hoogmoedig mense van nature is. Belsasar hou partytjie terwyl die vyand by die stadspoort is en hy gebruik selfs die heilige voorwerpe uit die tempel van God. Maar God is ʼn genadige God wat ʼn manier vind om selfs met mense te praat wat in opstand teen Hom is – deur ʼn hand wat ʼn boodskap teen ʼn muur skryf. Belsasar se reaksie van vrees is kenmerkend van die mensdom se soeke na en nietigheid voor God.

Daniël se optrede, aan die ander kant, verteenwoordig ons verantwoordelikheid as kinders van die Here in die tyd waarin ons leef. Kinders van die Here het niks om voor bang te wees nie. Ons het die voorreg om God se Woord aan die wêreld bekend te maak. Dit is ʼn boodskap van hoop en bevryding. Soos wat Daniël bekend was onder die mense van sy tyd vir sy standvastige geloof, kan ons ook getuig van God se liefde en genade deur die manier waarop ons lewe. God het met ons gepraat deur Jesus Christus. Hy het ons kom leer om ons nie te onttrek aan ons omstandighede nie maar om te midde van lyding, die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld te wees. Ons troos is dat ons hoop nie in die mag van mense gesetel is nie maar in die almagtige God.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS