Pinkstertyd – Dag 5 (29 Junie)
God se Gees leer ons om op God te vertrou
Bybelteks(te)
LUKAS 9
Die vermeerdering van die brood
Ons voel soms so oorweldig deur die armoede en lyding rondom ons. ʼn Mens wonder: Wat kan ons doen wat regtig ʼn verskil daaraan sal maak? Dit was maar dieselfde met die mense in Jesus se tyd. Hulle was moedeloos en soekend. Dit het vir hulle gevoel asof God hulle vergeet het. By Jesus vind hulle egter Iemand wat omgee, wat vriendelik en beskikbaar is, Iemand wat met hulle praat oor God en aandag gee aan hulle nood. Dit is so anders as die dissipels se gesindheid wat nie betrokke wil raak nie en hulle wil wegstuur.
Jesus se opdrag tref egter soos ʼn vuishou tussen die oë: Gee julle vir hulle iets om te eet. Om God werklik te vertrou is ʼn geweldige uitdaging, amper onmoontlik. Dit laat ons ongemaklik voel en vra van ons blindelingse gehoorsaamheid. Die belangrikste oomblik in hierdie teksgedeelte is wanneer Jesus opkyk na die hemel en God se seën vra. Dit is met hierdie gesindheid wat ons alles in die lewe behoort aan te pak: Van die manier hoe ons ons kinders grootmaak en ons beroepe beoefen tot ons dienswerk in God se kerk.
Ons kan by Jesus leer om meer op te kyk, dit wil sê, meer afhanklik van God te wees. Ons moenie soos ʼn opgaardam wees nie maar soos ʼn pyp waardeur God se genade en liefde by ander uitkom. Ons taak is nie om die brood te vermeerder nie. Ook nie om dit mooi op te pas nie maar om dit uit te deel. Wanneer mense dit verstaan, doen God wonderwerke. Die twaalf dissipels wat aanvanklik net die bietjie kos raakgesien het, tel twaalf mandjies vol brood op, ʼn mandjie vir elkeen!
Mense wat geleer het om op God te vertrou sal altyd meer as genoeg hê. Nie noodwendig aardse middele nie, maar hulle sal die bevrediging en vreugde daarvan smaak om vir iemand anders iets te beteken. Die lewe gaan nie om wat ons het nie, maar om vir iemand iets te kan gee — om eers uit te deel en dan bymekaar te maak.