Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Pinkstertyd – Dag 4 (28 Junie)

God se Gees laat ons oorwin

Bybelteks(te)

Die leë graf

1Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. 2Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

3Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. 4Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. 5Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. 6Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, 7ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. 8Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo.

9Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.

10Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

JOHANNES 20:1-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Sonder dat hulle dit in daardie stadium geweet het, was hierdie twee dissipels op pad na die grootste goddelike oomblik van alle tye: Jesus se leë graf! Hulle het in daardie stadium waarskynlik gedink hulle gaan nog die skelms vastrek wat Jesus se liggaam kom steel het. Vir hulle was die graf nog die einde. Min het hulle geweet dat God se plan baie groter is en baie verder strek as die graf. Eintlik was hulle besig om te hardloop na die lewe toe, en nie die dood nie – na ʼn nuwe begin, nie die einde nie.

Paulus gebruik ook die beeld van ʼn wedloop om iets te verduidelik van ons geloofsreis, van ons op pad wees na ’n groter, heerlike toekoms. So waar is ons vandag in hierdie wedloop? Ons is maar nog by die wegspringpunt. Die skoot het sopas geklap. Hoe lyk hierdie wedloop? Dit is nie ʼn naelloop waarin dit gaan oor wie die vinnigste is nie. Dit is ook nie ʼn maraton of ʼn lang en moeisame stryd nie. Nee, ons geloofsreis kan vergelyk word met ʼn aflos. In ʼn aflos is daar die kritiese oomblik wat die hele uitkoms van die wedloop bepaal en dit is die oorgee van die stokkie. Dit help nie jy kom eerste by die wenpaal aan maar jy het nie die stokkie nie.

In die lewe gaan dit nie oor wie die vinnigste of die verste kan hardloop nie, maar eerder of ons die kosbare boodskap van God se wonderlike genade en liefde verstaan. Vir ʼn oomblik is ons die draers van hierdie wonderlike boodskap binne die raamwerk van ʼn baie groter prentjie.

Soms kom ons op ʼn punt in die lewe wat dit vir ons voel asof ons misluk het. Kinders van die Here is egter meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet, want deur God se Gees lewe Hy in ons. Ons hoef daarom nie panniekerig rond te hardloop nie. Ons kan rustig wees. Jesus is nie weg nie. Hy leef in ons. Alles is nie verby nie. Ons beste dae lê nog voor.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS