Pinkstertyd – Dag 3 (27 Junie)
God se Gees laat ons bid
Bybelteks(te)
JONA 1
Hulp kom net van die Here af
JONA 2
Nood leer bid. Dit is hartseer maar dit is ongelukkig waar. Dit is baie keer wanneer ons in die nood is wat ons ons afhanklikheid van God besef. Ek het dit persoonlik weer beleef toe ek sewe ure in ʼn ambulans deurgebring het op pad na die hospitaal vir ʼn noodoperasie. Tydens hierdie rit het daar ʼn hele paar Skrifgedeeltes uit die Bybel deur my kop gemaal. Onder andere hierdie gedeelte waar Jona uit die dieptes van die vis se maag na God roep: “In my nood het ek tot die Here geroep, en Hy het my gebed verhoor. Diep in die doderyk het ek hulp gevra, en U, Here, het my gehoor” (Jona 2:2).
Die verteller in hierdie verhaal van Jona skets vir ons die prentjie van iemand wat doodbenoud uit die diepste van dieptes tot die Here roep en tog die wonderbaarlikste krag en teenwoordigheid van God beleef, want dit is nie ons nood wat ons leer bid nie. Dit is God se Gees. Deur sy Gees is God oral teenwoordig. Daar is nie ʼn tyd of ʼn plek waar God nie by ons is nie. Dit moes Jona eers leer. Dit help nie om van God te probeer wegvlug nie. Ons het God nodig in die lewe. Ons kan nie sonder God lewe nie.
Die funksie van gebed is nie om God se arm te draai om ons te help nie. Gebed is eintlik maar ʼn belydenis om onsself te herinner aan ons afhanklikheid van God. Soos Jona inderdaad bely: Hulp kom net van die Here af. Wanneer hy eers tot hierdie besef kom, spoeg die vis hom uit. Met ander woorde, dis asof hy weer gebore word en ʼn tweede kans in die lewe kry. Die teenwoordigheid van God se Gees in ons lewens maak van ons nuwe mense wat biddend ons afhanklikheid van God kan bely.