Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Pinkstertyd – Dag 2 (26 Junie)

God se Gees maak nuut

Bybelteks(te)

Danksegging en gebed vir die gemeente

3Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. 4In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, 5omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. 6Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.

7Dit is ook heeltemal reg dat ek so oor julle almal dink, omdat julle my na aan die hart lê. Julle deel immers almal saam met my in die genade wat God my gee, sowel in my gevangenskap as in my verdediging van die evangelie en die bevestiging van die waarheid daarvan. 8God is my getuie, Hy weet hoe ek na julle almal verlang met die liefde van Christus Jesus in my hart.

9Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, 11en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.

FILIPPENSE 1:3-11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Niemand van ons is volmaak nie. Dit beteken nie noodwendig dat ons sleg is nie. Dit beteken wel dat ons almal sondaars is. Dit word op verskeie plekke in die Skrif bevestig, byvoorbeeld in Galasiërs 5:17 en Romeine 7:15. Dit is dus noodsaaklik dat God ons gedurig sal verander.

God se Gees werk in ons. Hy maak ons lewens nuut sodat Hy deur ons kan werk. Wanneer God se Gees in ons werk, gebeur daar iets. Ons begin die lewe en mense in ʼn ander lig sien. As mense is ons is geneig om op die uiterlike te fokus, maar God kyk na ons harte. God wil ons gesindheid verander sodat ons anders sal optree. Die gevolg van hierdie voortdurende werking van God se Gees in ons, is dat ons uiteindelik die hart van ʼn dienskneg sal ontwikkel. Dit is dieselfde gesindheid Jesus Christus gehad het.

Dit is belangrik om te onthou dat dit nie onsself is wat hiertoe in staat is nie. Dit is God wat die goeie werk in ons begin het en wat dit enduit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. Ons moet altyd in ag neem dat God se Gees terselfdertyd besig is om in ander mense ook te werk. Ons is almal sondaars met baie foute en tekortkominge. Daarom is dit nodig dat ons liefde sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling sodat ons sal kan onderskei wat regtig saak maak in die lewe. Wanneer ons eers ons eie swakhede besef, sal ons meer begrip hê vir ander mense en meer verdraagsaam teenoor ander kan wees.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS