Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nuwe hoop (deel 2) – Dag 3

Nuwe hoop wanneer jy God vertrou vir beskerming

Bybelteks(te)

10U beskerm hom dan, en sy huis en al sy goed. U maak alles wat hy doen, voorspoedig. Selfs sy vee teel vinnig aan.

5Die Here sê: Ek sal 'n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.”

Bid jy daagliks vir jou verhoudings en ook jou geliefdes se beskerming? Besef jy dat jy sonder hierdie gebede ʼn teiken vir die vyand word?

In die 1940’s is van die wêreld se voorste vegvliegtuie by die Lockheed-lugmagbasis net buite Los Angeles in Amerika vervaardig. Dit was ʼn multimiljoendollar-onderneming met die voorste tegnologie gedurende daardie tyd.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het die Amerikaanse weermag besluit om Lockheed as die lanseerplek vir verskeie van hul operasies te gebruik. Dít het die basis ʼn groot teiken vir die vyand gemaak.

Die gerugte dat die Japanese weermag ʼn aanval in die area beplan, het die gemeenskap om Lockheed in vrees laat leef. Hulle het besef dat die vyand die basis eerste sou probeer afvat. Die Amerikaanse weermag bedink toe ʼn interessante en kreatiewe oplossing. Hulle sou die lugmagbasis en die gemeenskap rondom die basis met ʼn bruin net kamoefleer sodat dit vanuit die lug vir vlieëniers na ʼn oop veld met plaashuise sou lyk. Dit het gewerk. Hoewel die vlieëniers oor die basis gevlieg het en duidelik daarna gesoek het, kon hulle dit nie opspoor nie. Duisende onskuldige lewens is in die proses gespaar.

Net soos die Japanese weermag ʼn aanval wou loods, soek ons vyand, Satan en sy demone, ook daagliks na areas in ons lewens waar hulle ons kan aanval om ons lewens te verwoes. Tog, wanneer ons bid, span God ook ʼn kamoefleernet oor ons geliefdes en ons verhoudings om só die vyand se aanvalle af te weer.

In Job lees ons dat Satan vir God toestemming vra om Job se geloof te toets, maar in Job 1:10 herken hy dat sy aanvalle oneffektief was omdat God vir Job beskerm het: “Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie?” In Sagaria 2:5 lees ons ook hoe God Jerusalem beskerm het: “Die Here sê: Ek sal ʼn muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.”

God wil ons beskerm en sy plan vir ons is om in harmonie met mekaar te leef. Kom ons vra Hom dus om ʼn muur van vuur rondom ons verhoudings en ook ons geliefdes te wees. En kom ons leef só dat dit vir Hom lekker sal wees om ons van alle kante af te beskerm. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS