Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nuwe hoop (deel 2) – Dag 2

Nuwe hoop met beter verhoudings

Bybelteks(te)

Die gedrag van man en vrou teenoor mekaar

1-2Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om 'n woord te sê nie.

1 PETRUS 3:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

18Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here:

Al was julle skarlakenrooi van sonde,

julle sal wit word soos sneeu.

Al was julle purperrooi,

julle sal wit word soos wol.

Die liefde

1Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is:

Al praat ek die tale van mense en engele,

maar ek het geen liefde nie, het ek 'n stuk klinkende metaal, 'n galmende simbaal geword.

2Al het ek die gawe van profesie

en ken ek al die geheimenisse

en besit ek al die kennis,

en al het ek al die geloof om berge te versit,

maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.

3Al deel ek al wat ek het aan ander uit,

en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem,

maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.

4Die liefde is geduldig,

die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.

5Dit handel nie onwelvoeglik nie,

soek nie sy eie belang nie,

is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.

6Dit verbly hom nie oor onreg nie,

maar verheug hom oor die waarheid.

7Dit bedek alles,

glo alles,

hoop alles,

verdra alles.

8Die liefde vergaan nooit nie,

maar die gawe

van profesie sal verdwyn,

die gawe

om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou,

en dié van kennis sal uitgedien raak.

9Want ons ken maar gedeeltelik,

en ons profeteer maar gedeeltelik,

10maar wanneer die volledige kom,

sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees.

11Toe ek 'n kind was,

het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind.

Maar noudat ek 'n man is,

is ek klaar met die dinge van 'n kind.

12Nou kyk ons nog

in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld,

maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.

Nou ken ek net gedeeltelik,

maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.

13En nou:

geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.

En die grootste hiervan is

die liefde!

1 KORINTIËRS 13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Februarie staan bekend as die liefdesmaand. Tog kan die dinamika van verhoudings (romanties, familie of werk) met tye ʼn kopseer wees. Ek beantwoord graag ʼn paar vrae wat lesers oor die afgelope paar jaar vir my oor hierdie tema gestuur het:

Vraag 1: “Ek is al 40 jaar oud. Kan ek steeds hoop om ʼn huweliksmaat te vind?”

By God is daar nie ʼn vervaldatum om die regte lewensmaat te vind nie. Abraham se seun Isak was immers 40 jaar oud toe hy met Rebekka getrou het (Genesis 24–25). ʼn Huwelik is egter harde werk en soms wil God ons eers voorberei om seker te maak ons karakter is sterk genoeg om ʼn suksesvolle huwelik te bou.

As daar bagasie uit die verlede is wat jou terughou, vra God om jou te help om effektief deur dit te werk. Hy kan ons genees en voorberei. En as dit kom by die keuse van ʼn lewensmaat, volg die riglyne in Spreuke 3:6: “Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.” Volg hierdie raad en wie weet, dalk is hierdie die jaar waarin God jou en jou maat se paaie laat kruis!

Vraag 2: “Wat as ek met ʼn ongelowige persoon getroud is?”

Het jy al ooit gesien dat ʼn ongelowige tot bekering kom omdat jy heeltyd aan hom of haar karring? Ek het nog nie. Wat ek wel al gesien het, is hoe kragtig lewens verander wanneer mans en vroue vir mekaar begin bid. Dit is dan wanneer God deur die Heilige Gees ingryp en deurbrake bewerkstellig.

Ons lees daarvan in 1 Petrus 3:1-2: “Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ʼn woord te sê nie.”

In stede van kritiseer en baklei, begin dus eerder bid vir jou huweliksmaat, rebelse kinders, knorrige kollegas of familielede wat nog nie vir God ken nie, terwyl jy fokus om Jesus se liefde deur jou optrede aan ander rondom jou te demonstreer. Dít mag dalk die wêreld se verskil maak.

Vraag 3: “Kan ek as geskeide persoon hoop op ʼn tweede kans op geluk?”

In Jesaja 1:18 lees ons: “Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.” As God aan ʼn moordenaar, ʼn prostituut en die vrou wat in owerspel betrap was ʼn tweede kans op geluk kon gee, wie is ons om te sê dat Hy dit nie ook vir iemand sal doen wie se eerste huwelik misluk het nie?

Vraag 4: “Is daar praktiese raad om beter verhoudings te bou?”

My praktiese riglyne kom uit 1 Korintiërs 13:

  1. 1.Die liefde is geduldig: Bly jy te alle tye geduldig met jou huweliksmaat, kinders en kollegas of raak jy vinnig geïrriteerd?
  2. 2.Die liefde is vriendelik: Bly jy vriendelik selfs al het jy rede om jouself behoorlik te vervies?
  3. 3.Die liefde is nie afgunstig nie: Gun jy ander sukses of raak jy jaloers?
  4. 4.Die liefde soek nie sy eie belang nie: Is jy steeds die belangrikste in jou lewe of kan jy ander se behoeftes bó jou eie plaas?
  5. 5.Die liefde is nie liggeraak nie: Raak jy vinnig kwaad en geïrriteerd vir elke klein dingetjie wat nie uitwerk soos jy dit wil hê nie of behou jy perspektief van wat belangrik is in die lewe?
  6. 6.Die liefde hou nie boek van die kwaad nie: Vergeet jy vinnig of herinner jy ander gereeld aan foute uit die verlede?
  7. 7.Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles: Bedek jy ander se foute of hang jy dit aan die groot klok?

Effektiewe verhoudings begin wanneer ons daarna streef om die huweliksmaat, vriend, vriendin of kollega te word wat ons graag in ons lewens wil hê. In stede van kritiseer en fout vind, begin dus eerder soek na geleenthede om ander eerlik te komplimenteer. Jy mag verbaas wees oor hoeveel mense skielik jou teenwoordigheid sal kom opsoek. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS