Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nuwe hoop (deel 2) – Dag 1

Nuwe hoop dat God jou verlore geliefdes kan red

Bybelteks(te)

4Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is.

2 KORINTIËRS 4:4AFR83Maak oop in die Bybelleser

43Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Bid jy al ʼn geruime tyd vir ʼn geliefde om tot inkeer te kom? Moenie moed opgee nie. God hoor jou gebede. Dit is wat Mariette Loubser en haar familie beleef het.

Mariëtte: “Net voordat my oupa (wat toe 89 jaar oud was) siek geword het, het hy op sy eie rondgery en hy het ʼn vriendin gehad wie hy gereeld teater en restaurante toe geneem het. As gesin het ons egter geweet dat my oupa nie ʼn verhouding met Jesus Christus gehad het nie. My ma het van kleins af vir my gesê dat ons vir my oupa se redding moes bid. Elke keer as iemand die onderwerp met hom wou bespreek, het my oupa opstandig geword en al die foute van die kerk uitgewys. Sy hart was verhard en ons het geweet dat net God dit kon verander.

Terwyl my verhouding met Jesus Christus verdiep het, het die realiteit van ʼn ewigheid in die hemel en hel vir my al groter geword en ek het al ernstiger vir my oupa se redding begin bid.

Toe het my oupa siek geword. Ons het aanvanklik nie besef hoe ernstig dit was nie aangesien my oupa ʼn aktiewe leefstyl gelei het en steeds vir my ma kon wegloop as hulle saam gaan stap het. My oupa se gesondheid het egter vinnig agteruitgegaan. As gesin het ons bymekaargekom en intens vir sy redding begin vas en bid.

Tydens my eerste kuiertjie in die hospitaal ná ons vastyd was ek effens gespanne. Ek het al my moed bymekaargeskraap en aan my oupa gevra: ‘Oupa, wil oupa vir Jesus as oupa se Verlosser aanvaar?’ Ek het verwag dat hy weer opstandig sou word. Dié keer het hy my egter rustig aangekyk en ‘ja’ geantwoord. Ek was geskok en oorweldig en het saam met hom gebid.

ʼn Paar dae later was ek terug by die hospitaal. My oupa se toestand was vinnig besig om te versleg. Weer het ek gewaag om hom te vra: ‘Oupa, kan jy onthou dat ek verlede week saam met jou gebid het en dat jy Jesus as jou Verlosser aanvaar het?’ Hy kon dit egter nie onthou nie. Ek was teleurgesteld en moes hard veg teen die twyfelgedagtes dat my oupa dit bloot gedoen het om my tevrede te stel. Met ʼn glimlag het ek tog voortgegaan en gevra: ‘Dis niks oupa. Wil oupa nou vir Jesus as Verlosser kies?’ Weer het hy ‘ja’ geantwoord en ek het vir ʼn tweede keer saam met hom gebid.

Tydens my derde besoek was my oupa baie swak en hy het min gepraat. Ek wou egter seker maak dat hy nie verlore sou gaan nie en het dit gewaag om weer te vra: ‘Oupa, wil oupa vir Jesus as Verlosser aanvaar?’ Ek kon sien dat hy al sy moed en krag bymekaargeskraap het om uit volle bors te antwoord daar waar hy in sy bed gelê het. ‘Jaaaa!’ het oupa gesê. Trane het oor my wange gerol terwyl ons saam gebid het. In my hart kon ek ervaar dat hy dié keer ernstig oor sy besluit was.

Kort hierna was ek een aand by my ouerhuis toe my tannie van die hospitaal af bel om te sê dat my oupa besig is om te sterf. Ek en my ma het dadelik gebid dat God se vrede oor my oupa sou neerdaal. In my gees het ek ʼn prentjie gesien van swart gedaantes wat my oupa se siel probeer steel. Meteens was daar ʼn uitdrukking van skok en teleurstelling op hulle gesigte. Ek het dit nie verstaan nie. Ons het egter aangehou bid vir sy beskerming en ek het verklaar dat my oupa aan Jesus Christus behoort omdat hy Hom as Verlosser aanvaar het. My oupa het kort hierna gesterf.

Daardie aand het ek vir God gevra wat die prentjie beteken het. In my hart het ek ervaar dat Hy aan my wou vrede gee oor my oupa se ewige eindbestemming. Tot aan die einde van my oupa se lewe was daar egter ʼn konstante stryd tussen lig en donker vir sy siel. Die demone was reg om hom te kom haal toe hulle geskok besef dat hulle strategieë, wat vir 89 jaar lank gewerk het, uiteindelik gefaal het. My oupa was gered. My ma kon daardie aand beleef hoe haar gebede, wat sy van 16-jarige ouderdom afgebid het, beantwoord is. Al die eer kom God toe. Hy het waarlik ʼn wonderwerk in ons lewens kom doen!”

Mariette is reg. Satan en sy demone verblind ongelowige mense. In 2 Korintiërs 4:4 lees ons: “Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is.” Daar is egter tweede kanse wanneer ons ons sonde bely en Jesus Christus as ons Redder aanvaar. In Lukas 23:43b sê Jesus vir die sondaar langs hom aan die kruis: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Kom ons hou aan bid vir ons geliefdes en verseker só dat ons ʼn ewigheid saam in die paradys sal kan spandeer. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS