Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nuwe hoop (deel 1) – Dag 9

Nuwe hoop wanneer jy ʼn vredemaker word

Bybelteks(te)

9Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

18As dit moontlik is, sover dit van julle afhang,

leef in vrede met alle mense.

ROMEINE 12:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Moenie die genade van God verwerp nie

14Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir 'n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.

HEBREËRS 12:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Heelwat lesers het oor die jare e-posse gestuur met vrae oor die tema van vergifnis. Ek beantwoord graag hierdie een:

Vraag: “Hoe moet ek my eie woede en ook iemand anders se woede teenoor my beter hanteer? Ek besef dit verhoed dat ons vrede maak?”

Antwoord: Jy kan nie die ander persoon se woede blus nie, maar jy kan wel kies hoe jy jou eie woede gaan hanteer. In Matteus 5:9 sê Jesus: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” Die vraag is: Is jy ʼn vredemaker of iemand wat boek van die kwaad hou? Is jy bereid om jou trots in jou sak te steek en eerste uit te reik om vergifnis te vra (selfs al voel jy dat jy alle reg het om kwaad te bly) of kies jy om te wag dat die ander persoon eerste uitreik, wetende dat dit dalk nooit sal gebeur nie?

Die voormalige Amerikaanse president, Abraham Lincoln, is ʼn goeie voorbeeld van iemand wat die waarde om ʼn vredemaker te wees geken het. Toe dit tydens die Amerikaanse Burgeroorlog duidelik was dat Lincoln se Unioniste sou wen, het ʼn joernalis aan hom gevra hoe hy die suidelike state se rebelle sou behandel. Sy antwoord was: “Asof hulle nooit weggebreek het nie.” Die joernalis was verslae en het daarop reageer: “Maar, Meneer die President, is dit nie veiliger om jou vyand te vernietig nie?” Daarop het Lincoln geantwoord: “Jy is heeltemal reg. ʼn Mens vernietig mos jou vyande as jy vriende van hulle maak.”

ʼn Vredemaker is nie iemand wat oor hom of haar laat loop of konfrontasie vermy ter will van vrede nie. Dit is eerder iemand wat met wysheid na ʼn situasie kan kyk, al die opsies oorweeg en dan doen wat die beste vir alle betrokke partye is. Om dus ʼn vredemaker te wees, beteken om God se karakter, liefde en genade aan die wêreld te demonstreer. Dít terwyl ons terselfdertyd sy opdragte uitvoer. In Romeine 12:18 staan geskryf: “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” En in Hebreërs 12:14 lees ons: “Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ʼn heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.”

Kan ek jou dus aanmoedig om volgende keer wanneer jy in die werkplek, by die huis, in jou huwelik of in ʼn vriendskap voel asof jy alle reg het om te skree, te skel of om daardie ander persoon behoorlik te laat verstaan hoe verontrief jy is, eerder vir ʼn oomblik terug te tree en die Heilige Gees vir wysheid te vra. Hoe anders sou dit nie gewees het as God nie geduldig en vol liefde teenoor ons was as ons oortree het nie? Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS