Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nuwe hoop (deel 1) – Dag 8

Nuwe hoop met vergifnis

Bybelteks(te)

6Die hemel getuig: “God is regverdig, en Hý is die regter.” Sela

12So ver as die ooste van die weste af is,

so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

PSALMS 103:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

17Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val,

sal iets uitrig nie;

elkeen wat vals teen jou getuig,

sal gestraf word.

Dit is hoe Ek, die Here,

vir my dienaars sorg.

Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.

JESAJA 54:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

22Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis,

hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke.

Kom terug na My toe,

want Ek het jou verlos.

JESAJA 44:22AFR83Maak oop in die Bybelleser

26Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee.

ESEGIËL 36:26AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here;

soos 'n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies.

SPREUKE 21:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

36Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry wees.

JOHANNES 8:36AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Hele paar lesers het oor die afgelope paar jaar gevra dat ek iets oor vergifnis moet skryf. Hier is ʼn paar vrae uit die e-posse wat ek ontvang het:

Leser 1: “Hoe vergewe jy iemand wat jou en jou kind so benadeel het dat julle lewens onherroeplik weens die persoon se aksies verander is?”

Jy kan nie die verlede verander nie. Wat jy wel kan doen, is om te kies hoe jy vandag gaan optree. As mens te lank tob oor iets wat jou geweldig seergemaak het in die verlede, ontstaan ʼn vrees vir vergifnis. Hoe? Ons begin vrees dat wanneer ons daardie persoon wat ons te nagekom het vergewe, hy of sy skotvry gaan wegstap terwyl ons steeds die gevolge van sy of haar dade moet dra. Hoe langer jy dus wag, hoe moeiliker word dit om te vergewe omdat jou onvergewensgesindheid in bitterheid omskakel wat jou hele wese stadig maar seker vergiftig.

Wanneer ons egter kies om te vergewe en die oordeel aan God oor te laat, bevry Hy ons terwyl Hy terselfdertyd die saak namens ons beveg. In Psalm 50:6 lees ons: “Die hemel getuig: ‘God is regverdig, en Hý is die regter.’ ” En in Jesaja 54:17 staan geskryf: “Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.”

Stap een in die genesingsproses is dus om daardie persoon vry te spreek. Daarna kan jy begin om dit te verwerk. En al is dit soms seer om deur die verskillende emosies te werk, kan ek jou verseker dat God jou in staat sal stel om sterker en wyser aan die ander kant uit te stap as jy Hom deel van die proses maak. Gee Hom dus ʼn kans om namens jou te veg en jou te genees. Hy sal jou nooit teleurstel nie.

Leser 2: “Ek het al baie foute in my lewe gemaak wat ek voor God bely het. Hoewel ek dink God het my al vergewe, voel ek soms nog skuldig en sukkel ek soms om myself te vergewe. Het jy enige raad?”

Wanneer jy jou sonde met ware berou voor God bely, vergewe Hy jou. Hy dink nie weer daaraan nie. In Psalm 103:12 staan geskryf: “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.” En in Jesaja 44:22 sê God: “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke.”

Moet dus nie wag vir ʼn spesifieke gevoel in jou hart nie. Aanvaar God se vergifnis in geloof en jy sal beleef hoe vryheid en vreugde jou lewe kom vul. Die vyand hou egter nie daarvan nie en hy sal enigiets probeer om jou konstant aan die verlede en die spesifieke daad te herinner sodat jy skuldig moet voel.

As hy dit weer probeer doen, herinner hom gerus daaraan dat Jesus klaar vir ons die oorwinning en vryheid aan die kruis behaal het: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Johannes 8:36). Los dus die skuldgevoelens agter en stap met vryheid die toekoms tegemoet.

Leser 3: “Hoe moet ek bid dat God iemand se harde hart teenoor my sag maak?”

God is in staat om enige persoon se hart hard of sag te maak. Ons sien dit immers waar Hy Farao se hart teenoor die Israeliete tydens die tien plae in Egipte verhard en versag het. In Spreuke 21:1 lees ons: “Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here; soos ʼn stroom water lei Hy dit soos Hy verkies.” En in Esegiël 36:26 sê God: “Ek sal julle ʼn nuwe hart en ʼn nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ʼn hart van vleis gee.”

As jy in ʼn situasie is waar iemand ʼn wrok teen jou koester, begin bid dat God namens jou deur sy Heilige Gees in daardie persoon se hart werk. Hy kan sy of haar perspektief op die bepaalde situasie en ook teenoor jou heeltemal verander. Onthou, God ken daardie persoon beter as wat jy hom of haar ooit sal ken. Bid dus ook vir wysheid dat jy die regte woorde op die regte tyd sal gebruik om die saak uit te sorteer. Niks is vir God onmoontlik nie. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS