Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nuwe hoop (deel 1) – Dag 10

Nuwe hoop vir ʼn gebroke huwelik

Bybelteks(te)

27Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?

JEREMIA 32:27AFR83Maak oop in die Bybelleser

Verskeie lesers het die laaste paar jaar geskryf oor hulle huwelik wat deur moeilike tye gegaan het. Is jy ook tans in so situasie? Hier is Corlea du Plessis se getuienis wat jou kan inspireer:

“Terwyl ek een nag op die agterstoep gesit het, het ʼn gevoel van magteloosheid my oorweldig toe ek my man die huis hoor instrompel. Ek het instinktief geweet dat hy na werk ʼn draai by die kroeg gemaak het. Tot op daardie punt het ek alles in my vermoë probeer doen om ons huwelik te red. Dit het nie gewerk nie. My rug was teen die muur en ek het met ʼn steekpyn in my hart besef dat ons huwelik heel moontlik op die rotse is.

Vir jare het ek en my man vol lewens gelei met werk, die kinders en huistake. Sonder dat ons dit besef het, het ons uitmekaar begin groei. My gevoel van eensaamheid het veroorsaak dat ek alles en almal om my probeer beheer en manipuleer het. Dit het my man al verder van my af weg gestoot.

Ons het op ʼn stadium na Europa gereis. Wat sommige gedink het ons tweede wittebrood sou wees, het in ʼn tragedie geëindig. Ons het deur die strate van die romantiese stede gestap met niks om vir mekaar te sê nie. Dit was ʼn seer tyd. Met ons terugkoms in Suid-Afrika het my man uitgetrek en gesê hy wil skei. Hy het later teruggekom, maar niks het werklik tussen ons verander nie.

Ná die aand op die stoep het my man weer uitgetrek. Ek was alleen. Met trane wat oor my wange gevloei het, het ek een aand op my bed in my kamer voor God gebreek. Ek het vir Hom gesê dat ek weier dat die vyand die oorhand in ons huwelik kry en dat ek nie my kinders in ʼn gebroke huis wil grootmaak nie. Ek het ervaar dat God aan my openbaar het dat my stryd nie teen vlees en bloed was nie, maar teen ʼn onsigbare vyand wat huwelike haat en wat ons huwelik wou vernietig. Ek moes my geestelike wapens optel en Satan herinner dat Jesus reeds die oorwinning aan die kruis behaal het.

Ek het boeke oor geestelike oorlogvoering begin lees en iemand het Stormie Omartian se boek, The Power of a Praying Wife, aan my gegee wat my baie gehelp het. Vir die eerste keer het ek ontdek dat ek vir ʼn muur van vuur as beskerming vir my huwelik kon bid. Ook dat ek kon bid dat God my man se lus vir alkohol sou wegneem en aan hom ʼn onverstaanbare honger na Hom sal gee en ook die regte mense op die regte oomblik oor sy pad stuur om inspraak in sy lewe te hê.

Ons het mekaar min gesien nadat my man uitgetrek het en soms het dit vir my gevoel asof my gebede kragteloos was omdat niks verander nie. Tog het ek nie moed opgegee nie. Een spesifieke dag het ek na die lied van Michael W. Smith geluister met die refrein Every knee will bow, every tongue confess. Ek wou glo dat dit ʼn belofte van God aan my was vir my man se redding, maar ek was nie seker nie. Ek het niemand van die belofte vertel nie, maar aanhoudend na die lied geluister en met geloof gebid. Kort hierna het ons predikant vir my gebid en na afloop van die gebed gesê: ‘Ek ervaar dat God vir jou ʼn lied gegee het. Hy sê dat jy aan die woorde van die lied moet vashou.’ Ek was stomgeslaan. God het tog my gebede gehoor! Ek het vuriger as ooit gebid.

Ses maande nadat my man uitgetrek het, was hy terug by die huis. Hy wou hê ons moet ons huwelik herbou. My voorwaarde was dat ons dit dié keer saam met God sou doen. Hy het ingestem en ons het ʼn nuwe pad saam begin. Eers later sou ek uitvind dat God heeltyd besig was om in my man se lewe te werk toe ek gevoel het asof my gebede kragteloos was. Wat vir hom voorheen lekker gesmaak het, was skielik bitter (die alkohol), mense het sy pad gekruis wat inspraak in sy lewe gehad het wat hom anders oor sake laat dink het en hy het my vertel dat hy skielik ʼn begeerte gehad het om tyd saam met God te spandeer. Ek het besef dat die gevoel dat my gebede kragteloos was inderwaarheid die vyand was wat my wou laat twyfel om op te hou bid terwyl God elke gebed gehoor het.

Vandag is ons steeds gelukkig getroud. My man is my beste vriend. Hy beskerm my fisies en emosioneel en ek het geen begeerte meer om hom te probeer beheer of manipuleer nie. God se orde vir ʼn huwelik is die enigste wat ware huweliksgeluk verseker. As jy jou man eer en respekteer sal hy ʼn begeerte hê om jou te beskerm. Hoe meer hy jou beskerm en laat veilig voel, hoe minder wil jy hom manipuleer of beheer. Ek gee alle eer aan God. Hy het ons gebroke huwelik herstel, ons kinders in die proses beskerm en aan ons gewys dat niks vir Hom onmoontlik is nie!”

Corlea is reg. In Jeremia 32:27 lees ons immers God se woorde: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?” Kan ek jou aanmoedig om aan te hou om op Hom te vertrou vir watter deurbraak jy ook al nodig het? Hy sal jou nooit verlaat of in die steek laat nie!

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS