Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nuwe hoop (deel 1) – Dag 7

Nuwe hoop in God se woord

Bybelteks(te)

Die woord as swaard

12Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

HEBREËRS 4:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

35Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

MATTEUS 24:35AFR83Maak oop in die Bybelleser

16Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

2 TIMOTEUS 3:16-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

5Elke belofte van God is betroubaar;

Hy beskerm dié wat by Hom skuil.

SPREUKE 30:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die gholfbal en die Bybel. Wat het hierdie twee uiteenlopende dinge in gemeen?

Die gholfbal: My man is ʼn kranige gholfspeler en van tyd tot tyd lê daar gholfballe in ons huis rond. Omdat ek nie self gholf speel nie het ek nooit veel waarde aan hierdie balle geheg nie. Toe ek agt maande swanger was het ek gereeld rugpyn en -spasmas gekry. Die pyn en ongemak was veral erg as ek snags in die bed posisies verander het wat veroorsaak het dat ek dan vir ʼn paar minute wakker lê voordat ek weer aan die slaap raak. My man dink toe aan ʼn slim plan: Plaas die gholfbal agter jou rug op die spasma en rol daarop om die spasma uit te werk. Dit het toe gewerk! Skielik het ek van elke gholfbal in ons huis geweet en kon ek weer ʼn nagrus kry met heelwat minder pyn en ongemak!

Die Bybel: Die meeste van ons het meer as een Bybel in die huis. Die vraag is egter: Is dit steeds vir jou ʼn waardevolle besitting of het dit vir jou soos die gholfballe geword omdat jy die Bybel so lank gelede opgetel en gelees het? Wanneer ons nalaat om tyd saam met God te spandeer en sy woord te bestudeer, begin ons met pyn en ongemak in ons gees tob oor uitdagings in ons lewens – hetsy finansieel, in jou huwelik, in die werkplek of met jou gesondheid. Dít terwyl God se woord, wat tot ons beskikking is, gevul is met beloftes wat ons in elke situasie bemoedig en met wysheid en hoop vul. Wanneer ons egter die waarde van hierdie beloftes in ons lewens begin ontdek, word dit net soos die gholfbal – van onskatbare waarde!

God se woord is lewend en kragtig. In Hebreërs 4:12 lees ons: “Dit (die woord van God) is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.” En in 2 Timoteus 3:16-17 staan: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ʼn regte lewenswyse te kweek.”

Ook weet ons dat God se beloftes vasstaan en dat Hy nooit verander nie. In Spreuke 30:5 staan geskryf: “Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil.” In Matteus 24:35 sê Jesus: “Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

Wanneer jy dus weer ongerief en pyn in jou gees ervaar, tel die woord van God op en vra die Heilige Gees om jou na die regte gedeelte te lei. Jy mag verbaas wees oor hoe vinnig die “spasmas” in die vorm van uitdagings uit jou lewe verdwyn en met hoeveel meer rustigheid jy sekere situasies hanteer omdat jy weet wat God daaroor sê. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS