Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nuwe hoop (deel 1) – Dag 6

Nuwe hoop met ʼn nuwe perspektief

Bybelteks(te)

18Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

1 TESSALONISENSE 5:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

20Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.

EFESIËRS 5:20AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Nederige, goeie vrou het op ʼn dag huilend by die rabbi in haar gemeenskap opgedaag. Toe die rabbi gaan sit om na haar te luister, het sy dadelik weggeval: “Rabbi, ek en my man en my kinders moet in een vertrek leef en ons val behoorlik oor mekaar se voete. Ek kan dit nie meer hanteer nie!” Die rabbi het sy kop geknik en ʼn voorstel gemaak: “Koop ʼn paar hoenders.” Die vrou het met ʼn frons na hom gekyk. Hoe sou dié raad hulle help? Tog het sy die rabbi se raad gevolg.

ʼn Tydjie later was die vrou terug by die rabbi. Dié keer was sy nog meer ongelukkig. “Rabbi, die hoenders kekkel en kraai van vroegoggend tot laat in die aand. Die kinders skree. Ek en my man is regtig besig om van ons koppe af te raak. Asseblief, het u nie vir ons raad nie?” Weer het die rabbi sy kop geknik en gesê: “Koop ʼn bokooi.” Dié keer het die vrou se frons op haar voorkop verdiep. Sou ʼn bokooi hulle werklik help? Uit desperaatheid het die vrou egter die rabbi se raad gevolg.

Die volgende dag was sy terug by die rabbi. “Rabbi, u raad vra te veel van my. Ek is nie heilig genoeg nie! Wat staan my te doen?” Die keer het die rabbi geglimlag en haar aangeraai om die bokooi en die hoenders te verkoop.

Daardie Sabbat, na die kerkdiens, het die vrou die rabbi met ʼn glimlag bedank. “Rabbi, dit was uitstekende raad! Sonder die bokooi en die hoenders is die lewe skielik wonderlik. Ons geniet die stilte en die spasie. Dit het nog nooit so goed met ons gegaan nie!”

Is jy ook tans in ʼn situasie wat jou frustreer of ongemaklik laat voel? Dit bly fassinerend hoe ons kla oor ons lang werksure totdat ons ʼn werklose persoon ontmoet wat al vir maande sukkel om werk te kry. Of ons kla oor ʼn huweliksmaat of kind se vreemde gewoontes totdat ons met iemand gesels wat ʼn geliefde aan die dood afgestaan het en nooit weer daardie “vreemde gewoontes” sal kan beleef nie. Of ons kla oor die selluliet op ons bene of die ekstra gewig rondom die maag net totdat ons iemand ontmoet sonder bene of iemand wie se maag weens ʼn siekte verwyder moes word.

Wanneer ons vaskyk in die ongerieflike of ongemaklike situasies in ons lewens, kyk ons die dinge mis waarvoor ons wel nog dankbaar kan wees. In 1 Tessalonisense 5:18 lees ons: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” En in Efesiërs 5:20 staan geskryf: “Julle behoort aan ons Here Jesus Christus en julle moet altyd vir God ons Vader dankie sê vir alles.”

Besef jy dat elke uitdagende of frustrerende situasie ʼn geleentheid is waarin ons karakter gevorm word? Kom ons kies dus om God in hierdie nuwe jaar te vra om ons te help om met nuwe oë na moeilike situasies in ons lewens te kyk. Nie net gaan dit ons help om die lewe meer te geniet nie – ons mag dalk begin om God te dank vir daardie ongemaklike situasies waaroor ons aanhoudend gekla het! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS