Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nuwe hoop (deel 1) – Dag 5

Nuwe hoop as jy op moedverloor se vlakte staan

Bybelteks(te)

2 KORINTIËRS 4

Lewe deur die geloof

16Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

2 KORINTIËRS 4:16-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Paar jaar gelede het Harry Vermaak, ʼn trokbestuurder van die Oos-Kaap, vroegoggend uit Port Elizabeth na Plettenbergbaai vertrek. Ongeveer 02:00 die oggend het hy by die Van Stadensrivierbrug gestop toe hy ʼn voertuig op die brug sien staan. Hy het hy onmiddellik onraad vermoed. Hier is Harry se getuienis:

“Ek het met my trok langs die motor op die brug gestop en die toeter ʼn paar keer gedruk. Daar was egter geen reaksie van die motoris nie. Om daardie tyd van die oggend uit te klim was te gevaarlik. In my hart het ek egter geweet dat die persoon hulp nodig het. Ek het gebid vir God se beskerming en toe uit die trok geklim.

Op daardie oomblik het die motor se deur oopgeswaai en ʼn bleek man met wilde oë het uitgeklim. Vrees het my beetgepak. Dit het kompleet gelyk asof die man besete was. Ek wou na my trok toe hardloop, maar vrees het my verlam.

‘Wat soek jy hier?’ het die man gevra. ‘God het my gestuur om jou te red,’ het ek geantwoord. Die man het sy kop geskud en gesê: ‘nee, 03:00 gaan ek van die brug afspring.’ My maag het gedraai. ‘Dit mag dalk jou tyd wees, maar dit is nie God se tyd nie. Hy het my gestuur om jou te kom help,’ het ek geantwoord.

Die man het daarna ʼn selfmoordbrief uit die motor gehaal en dit vir my gegee. Ek het sy arm gegryp en gesê: ‘Wag net ʼn bietjie …’ Toe het sy foon skielik begin lui. Sy dogter was op die foon en sy was histeries opsoek na haar pa. Ek het vir haar gesê ons staan op die Van Stadensrivierbrug en haar pa wil afspring. Sy het die foon vir haar ma gegee. Skielik was ek in ʼn tweestryd: Die vrou op die foon wou weet wat aangaan en die man wie se arm ek vasgehou het, wou van die brug afspring. Ek het die vrou verseker dat ek die polisie sou bel en die gesprek beëindig.

Ek het die man se magteloosheid verstaan. ʼn Paar jaar gelede wou ek ook my eie lewe neem, maar God het ingegryp en my lewe gered. Ek het dit vir die man vertel. ‘Het jy jou kinders lief?’ het ek vir hom gevra. ‘Meer as wat jy ooit sal kan besef,’ was sy antwoord. Na hierdie vraag was hy vir ʼn oomblik rustiger en ek het die polisie gebel. Tien minute later was hulle op die toneel en die man is na die polisiekantoor geneem.

In die polisiekantoor het die man se gesin vir hom gewag. Daar was trane toe hulle hom omhels. Die trane het ook oor my wange gerol. In daardie oomblik het ek besef dat God my lewe gered het en aan my nuwe hoop gegee het sodat ek daardie aand in Oktober ʼn instrument in sy hand kon wees om ʼn ander gebroke man se lewe te red.”

Harry is reg. God het vir ons planne van voorspoed en nie teenspoed nie. Hy wil ons daagliks innerlik nuut maak en aan ons hoop gee. In 2 Korintiërs 4:16-17 lees ons: “Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ʼn heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.”

In ons diepste nood is God die naaste aan ons. Moet Hom nie miskyk nie en moet ook nie hoop verloor nie. Reik uit na Hom. Hy sal jou deurdra en ook jou lewe kom nuut maak! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS