Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nuwe hoop (deel 1) – Dag 4

Nuwe hoop met beter vriendskappe hierdie jaar

Bybelteks(te)

24Maats kan jou breek,

maar daar kan ook 'n vriend wees

wat nader is as 'n broer.

SPREUKE 18:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

12Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. 13Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.

JOHANNES 15:12-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die geweerskote het steeds in die verte opgeklink toe die soldaat uitasem voor die luitenant gaan staan en sê: “Luitenant, my vriend het nie uit die gevegsone teruggekeer kamp toe nie. Ek dink hy is gewond. Ek vra verlof om hom te gaan haal.”

“Versoek geweier, soldaat,” het die luitenant kwaai gesê sonder om twee keer te dink. Hy wou nie hê dat sy manskappe hulle lewens onnodig in gevaar moes stel nie. Die kans dat die soldaat nog leef was boonop baie skraal.

Die soldaat het egter die luitenant se bevel verontagsaam en terug gehardloop na die slagveld om sy vriend te gaan haal. Op pad terug, met sy vriend se lyk in sy arms, is hy self ernstig gewond. Die luitenant was woedend en het gesê: “Ek het jou mos gesê jou vriend is dood. Nou gaan ek julle albei verloor!” Met meer deernis het hy toe verder gepraat: “Sê my, was dit nou die moeite werd om jou lewe te waag om ʼn lyk terug te bring?”

Die sterwende soldaat het geglimlag terwyl hy na sy vriend kyk en geantwoord: “O ja, luitenant. Toe ek by my vriend kom het hy nog geleef. Toe ek langs hom buk het hy vir my gesê: ‘Ek het geweet jy sal my kom haal.’ ”

Is jy ʼn vriend of vriendin waarop ander kan steun? Koester jy jou vriendskappe sodat jy mense het op wie jy kan steun? In Spreuke 18:24 lees ons: “Maats kan jou breek, maar daar kan ook ʼn vriend wees wat nader is as ʼn broer.” En in Johannes 15:12-13 sê Jesus: “Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.”

Kom ons maak hierdie jaar ʼn jaar waarin ons onsself nie langer isoleer nie, maar waarin ons moeite doen met ons vriendskappe. Kom ons word vriende op wie ander kan steun en kies vriende wat ʼn positiewe uitwerking op ons lewens het om mee tyd te spandeer. Jy mag dalk verbaas wees oor hoeveel God deur jou in ander se lewens kan vermag, maar ook hoe Hy terselfdertyd sy liefde aan jou kan bewys deur goeie vriende in jou lewe! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS