Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nuwe hoop (deel 1) – Dag 13

Nuwe hoop in tye van verlies en hartseer

Bybelteks(te)

4Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.

5Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

HEBREËRS 13:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

19Die Here is naby die gebrokenes,

Hy help die moedeloses.

PSALMS 34:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

4Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

DIE OPENBARING 21:4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Op ʼn dag het ek met ʼn vrou gesels wie se skoonheid en sprankelende persoonlik my altyd inspireer. Op daardie spesifieke dag was haar sprankel weg en ek het gewonder wat aangaan. Geskok moes ek uitvind dat haar seun kort voor Kersfees, na sy matriek-eindeksamen, in ʼn motorongeluk gesterf het en dat hulle hom op die dag wat die matriekuitslae bekend gemaak is, moes begrawe. Terwyl die trane oor haar wange vloei, was ek skielik sprakeloos. Wat sê mens vir iemand wat nooit weer haar lieflingseun teen haar sal kan vasdruk nie?

ʼn Dag later het ek ʼn e-pos van ʼn leser ontvang waarin sy vertel hoe sy een dag na werk op haar man, wie toe 38 jaar oud was, se lyk by die huis afgekom het. ʼn Bloedklont is deur sy hart. Haar woorde aan die einde van haar e-pos het my diep geraak: “My beste maat, met wie ek vir tien jaar getroud was, is skielik van my af weggeruk en ek benodig nuwe hoop om aan te gaan met my lewe. Help asseblief!”

Wanneer iemand sterf, is daar altyd twee “kategorieë” mense. Diegene wat alleen agterbly en die pyn en verlies moet verwerk en diegene wat die eerste groep mense wil bystaan en ondersteun, maar nie altyd seker is wat die regte manier is om dit te doen nie.

Vir diegene wat agterbly: Dit is normaal om emosies van skok, woede, ontkenning en miljoene vrae te ervaar. Dit is ook normaal om jouself aan die slaap te huil, sommige oggende nie uit die bed te wil opstaan nie en te wonder of die pyn in jou hart ooit sal beter word.

Om te rou oor die verlies van ʼn geliefde neem tyd, maar jy moet kies om nie bitter te word nie. Vra God om jou te help om nie fokus te verloor van wat jy nog het deur konstant te fokus op wat jy verloor het nie.

Onthou, Hy is naby aan jou – al voel dit nie so nie. En as jy huil, pyn sy hart en daarom wil Hy jou deur sy Heilige Gees vertroos. In Matteus 5:4 lees ons immers: “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” In Hebreërs 13:5 verseker Hy ons dat ons nie alleen is in tye soos hierdie nie: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” En in Psalm 34:19 bevestig die psalmdigter: “Die Here is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees”.

Selfs al kan jy dus net die woord “Jesus” tussendeur jou trane fluister moet jy dit doen. Hy hoor en ken jou hart. Jesus het immers dieselfde emosie by sy vriend Lasarus se graf ervaar. En meer as dit, Hy het sy lewe uit vrye wil vir ons opgegee omdat Hy geweet het dat dit die enigste uitweg sou wees dat ons die Heilige Gees, ons Trooster, sou kon ontvang om ons deur enige uitdaging en seer te help!

Vir diegene wat wil help: In die Joodse kultuur is daar ʼn gebruik wat bekendstaan as “om shiva te sit”. Wanneer iemand ʼn geliefde verloor het, daag jy as vriend of vriendin by daardie persoon se huis op. In stede daarvan om raad te gee, sit jy bloot doodstil saam met daardie persoon. As hy of sy wil praat, praat jy terug, maar dit is jou stille teenwoordigheid eerder as jou woorde wat ondersteuning bied en genesing bring.

Ook, in stede daarvan om te vra dat diegene wat die verlies ervaar jou moet laat weet as daar iets is wat hulle benodig, kan jy eerder self die behoeftes bepaal en vervul. As die gras byvoorbeeld gesny moet word, sny dit. As daar nie kos in die huis is nie, neem vir hulle kos. En as die huis skoongemaak moet word, doen dit of reël dat iemand anders dit doen.

Moet ook nie vergeet om vir diegene wat rou te bid nie. Jou gebede hou hulle arms omhoog en help hulle om nie perspektief in die seerste tyd van hulle lewens te verloor nie.

Die slotsom? Selfs al voel die seer of verlies wat jy tans in jou lewe het oorweldigend, moet jy onthou – dit is net tydelik. In Openbaring 21:4 lees ons iets van die ewigheid: “Hy (God) sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.” Mag jy vandag sy teenwoordigheid beleef en ervaar hoe Hy nuwe hoop in jou hart plaas wanneer jy nie meer weet watter kant toe nie. Hy kan dit doen. Sterkte!

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS