Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nuwe hoop (deel 1) – Dag 12

Nuwe hoop omdat sy genade vir ons genoeg is

Bybelteks(te)

2 KORINTIËRS 12

9Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.

2 KORINTIËRS 12:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 40

31maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.

Hulle vlieg met arendsvlerke,

hulle hardloop en word nie moeg nie,

hulle loop en raak nie afgemat nie.

JESAJA 40:31AFR83Maak oop in die Bybelleser

FILIPPENSE 4

6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

FILIPPENSE 4:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Verskeie lesers het oor die jare e-posse gestuur waarin hulle skryf oor hulle gebroke huwelik. Een spesifieke leser het geskryf: “Ek sit in ʼn geweldige moeilike situasie. My man drink baie. Dit pla my, want toe ons mekaar jare gelede ontmoet het, was hy ʼn geheelonthouer. ʼn Tyd gelede was ons in ʼn ernstige motorongeluk omdat hy te veel pille gedrink het. Ek praat met God oor die saak, maar dit voel vir my asof ek geen antwoorde kry nie. Ek voel lewensmoeg en desperaat. Help asseblief!”

Voel jy ook so lewensmoeg soos hierdie leser? So asof die uitdagings in jou lewe dreig om jou te oorweldig? Wanneer ons ons geloof en vertroue in God plaas, bevind ons onsself terselfdertyd in die moeilikste maar ook die mees bevrydende plek in die wêreld. Dis moeilik, want dit bly ʼn uitdaging om uit die boot te klim en in geloof op die water te begin stap. Tog is dit bevrydend aangesien ons dan aan God die geleentheid gee om sy grootheid aan ons te demonstreer – sonder dat ons probeer om ʼn handjie by te sit.

Het jy al beheer oorgegee of probeer jy nog self veg? In 2 Korintiërs 12:9 word bevestig dat God aan ons die nodige krag sal gee vir elke uitdaging in ons lewe: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” In Jesaja 40:31 beloof Hy: “… maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”

En hoe kry ons vrede in ons harte te midde van storms wat rondom ons woed? In Filippense 4:6-7 gee Paulus raad: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Kom ons herinner onsself dus vandag daaraan dat God almagtig is. Hy kan jou verlore vriende en familie tot inkeer bring, Hy kan aan jou wysheid gee om jou finansiële situasie beter te hanteer, Hy kan jou huweliksmaat se hart verander, en Hy kan jou vrees wegneem en aan jou vrede gee wat alle verstand te bowe gaan. Kyk dus vir ʼn slag boontoe en beleef hoe Hy nuwe hoop deur jou are laat bruis. Onthou, Hy hoor elke gebed en sal jou nooit teleurstel nie. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS