Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nuwe hoop (deel 1) – Dag 14

Nuwe hoop wanneer ons God eerste stel

Bybelteks(te)

15Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”

Kom saam met my terug in tyd na 1 372 v.C. Ons is in die beloofde land, Kanaän. Die volk van Israel het op versoek van hulle 110-jarige leier Josua in die dorpie Sigem bymekaargekom waar hy namens God met hulle gaan praat.

Kan jy sien hoe swaar Josua op sy kierie leun waar hy voor die Israeliete stelling inneem? Vir ʼn oomblik is dit doodstil dan klink sy stem op terwyl hy die Israeliete op ʼn reis deur die geskiedenis neem om hulle aan God se getrouheid te herinner: “Israel, so sê die Here, die God van Israel: ‘Julle voorvaders, Tera en sy seuns, Abraham en Nahor, het lank gelede anderkant die Eufraatrivier gewoon. Hulle het afgode gedien. Ek het vir Abraham uitgekies en hom laat wegtrek na die land wat Ek aan hom gewys het. Dit was Ek wat sy nageslag groot gemaak het. Terwyl julle voorvaders slawe in Egipte was, het Ek vir Moses en Aäron na Egipte gestuur om die volk uit te lei.

‘By die Rooisee het julle voorvaders na My geroep om hulle teen die Egiptenaars te beskerm. Ek het hulle geantwoord en ʼn pad deur die water gemaak. Nadat die volk op droë grond deurgestap het, het Ek die water op die Egiptenaars laat toegaan.

‘Ná jare in die woestyn het Ek julle na die beloofde land Kanaän gebring. Toe die regte tyd aanbreek, het julle oor die Jordaanrivier gegaan en by die stad Jerigo gekom. Dit was nie júlle wapens wat hulle oorwin het nie, maar Ék wat namens julle geveg het en aan julle die oorwinning gegee het. In Kanaän het Ek vir julle ʼn land gegee waarvoor julle nie gewerk het nie en stede wat julle nie self gebou het nie.’ ”

Waarom het God die Israeliete aan sy getrouheid in die verlede herinner? Hy het geweet dat wanneer ons terugkyk en onthou waar Hy ons in die verlede beskerm het en waar aan ons ʼn deurbraak bewerkstellig is, dit vir ons makliker word om Hom in die hede vir deurbrake te vertrou. Al het God die Israeliete aan die verlede herinner het Hy hulle egter nooit forseer om Hom te aanbid nie. Hy het hulle voor ʼn keuse gestel: Hulle kon kies om Hom te dien of om afgode te aanbid – maar beide keuses het spesifieke gevolge.

In Josua 24:15 sluit Josua sy toespraak af terwyl hy dit aan die volk duidelik maak dat hy en sy huisgesin reeds besluit het dat hulle God sal dien: “… kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.”

In Sigem het die Israeliete (selfs dié wat by afgodery betrokke geraak het) soos een man daardie dag besluit om na God terug te draai en Hom te aanbid. Om hulle aan hul besluit te herinner het Josua ʼn groot klippilaar opgerig. Hierdie besluit in die Israeliete se lewens het gelei tot God se seëning en beskerming oor die volk.

Besef jy dat jy ook vandag op ʼn punt staan waar jy God eerste in jou gesin, huwelik, werkplek en lewe kan stel óf jy kan toelaat dat wêreldse praktyke jou wegvoer. Wat gaan jou keuse wees? Onthou, God sal jou nooit forseer om Hom te dien nie, maar ook jou keuse het gevolge. Sterkte!

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS