Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nuwe hoop (deel 1) – Dag 11

Nuwe hoop om die wêreld te verander

Bybelteks(te)

10Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie. Die mense sal bly wees wanneer hulle sien Serubbabel gaan aan met die bouwerk.

Daardie sewe oë op die klip voor Jesua is die oë van die Here wat oor die hele wêreld kyk.

SAGARIA 4:10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Droom jy daarvan om ʼn verskil in jou omgewing en in ons land te maak? En as jy vandag sou sterf, sal jy trots wees op jou nalatenskap?

Die volgende woorde verskyn op ʼn Anglikaanse biskop wat in Westminster Abbey in Londen begrawe is se grafsteen: “Toe ek jonk en vry was en my verbeelding geen perke geken het nie, het ek gedroom oor hoe ek die wêreld sou verander. Soos ek ouer en wyser geword het, het ek agtergekom dat ek nie die wêreld sal kan verander nie. Ek het my droom effens ingekort en besluit om net my land te verander. Hiermee het ek geen sukses gehad nie. In my herfsjare het ek nog een laaste poging aangewend om dinge te verander. Ek het min illusies oorgehad en besef dat ek tevrede moes wees om net my gemeente, of selfs net my gesin, te verander. Hulle wou niks daarvan weet nie. Nou, terwyl ek op my sterfbed lê, besef ek te laat: As ek maar net by myself begin het, sou ek dalk deur my voorbeeld my gesin en ʼn paar gemeentelede kon verander. Met hulle inspirasie en bemoediging sou ons dalk ons land kon help verander. En wie weet, miskien sou ons selfs iets aan die wêreld kon doen.”

Soms raak ons so weggevoer deur ʼn groot droom in ons harte, dat ons nalaat om die seisoen waarin ons tans is, effektief te benut. In Sagaria 4:10 lees ons: “Die werk wat nou aan die gang is, lyk miskien klein en nie waffers nie. Maar moenie die waarde daarvan onderskat nie.” Hier is Serubbabel besig om die fondamente van die tempel te lê. Dit lyk na ʼn eenvoudige en onbelangrike werk, en tog sien God dit as belangrik.

God ken die drome in ons harte. Hy ken ook ons elkeen se toekoms. Wanneer ons begin om in Hom te berus, sal ons veel minder stres in ons lewens beleef en meer geleenthede om ʼn verskil te maak rondom ons raaksien. Kom ons hou ons oë dus in hierdie week oop en gebruik elke geleentheid wat Hy oor ons pad stuur om ʼn verskil te maak. Wie weet, ons mag dalk net ʼn verskil in ons omgewing, ons land en selfs in die wêreld maak! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS