Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nogtans – Dag 5

Nogtans sal ek ʼn loflied sing

Bybelteks(te)

PSALMS 43

5Waarom is ek so in vertwyfeling

en waarom kerm ek so?

Vertrou op God!

Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing.

Hy is my helper en my God!

ROMEINE 12

12Verbly julle in die hoop;

staan vas in verdrukking;

volhard in gebed.

ROMEINE 12:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Paar jaar gelede het elf boere in die droogtegeteisterde Williston-omgewing in die Noord-Kaap op die plaas Rietfontein bymekaargekom. Hoewel hulle harte vol hoop was dat die beloofde trok met veevoer sou arriveer, was daar tog ʼn tikkie ongeloof. Sou vreemdelinge werklik iets so waardevol bring? Plek-plek het van die boere se vee weens hongersnood begin vrek. Ander boere moes hul vee noodgedwonge uitsit omdat handelsbanke begin weier het om verder aan boere geld uit te leen om veevoer aan te koop weens hul opgehoopte skuld. Dít terwyl boere dag en nag na die gehuil van die honger diere op die plase moet luister — en soms selfs nie eens kos in hul eie huise het om op die tafel te sit nie.

ʼn Paar jaar gelede het Radio Tygerberg 104fm, die gemeenskapsradiostasie waarby ek in die Kaapse Skiereiland betrokke is, in samewerking met Adri Williams van ʼn ander nieregeringsorganisasie, ʼn projek met die naam SOS100 begin. Hierdie projek het aan luisteraars die geleentheid gebied om ʼn bydrae te lewer om veevoer vir die boere in nood aan te koop. Omdat die vervoerkoste deur MAN Truck and Bus gedek is en Pick n Pay vir die boere en hulle werkers geskenkpakke met kruideniersware gegee het, is elke sent wat luisteraars bygedra het aangewend om veevoer te koop wat na die boere in nood gestuur is.

Ons het aanvanklik gehoop dat ons teen die einde van die eerste week een trok met 36 ton veevoer (wat R132 000 kos) sou vul. Groot was ons verbasing toe ons voor die einde van die ontbytprogram, waarby ek betrokke was, die nuus ontvang dat genoeg geld inbetaal was sodat ons die eerste trok kon laai en uitstuur. Teen die einde van daardie oggend was daar meer as een miljoen rand inbetaal en nog nege trokke is uitgestuur.

Toe die eerste trok afdraai na die plaas Rietfontein op Williston, het van die boere op ʼn snikhete dag in die Karoo hoendervleis uitgeslaan. Ander moes hard sluk om die knop in die keel weg te kry. In daardie oomblik het hulle besef dat God hulle desperate gebede gehoor het waar hulle tussen hul honger diere rondgestap het, of laatnag, alleen in hul plaashuise, voor Hom gekniel het om na Hom om hulp te roep. God het nie net hulle gebede verhoor nie, maar ook mense regoor die land se harte aangeraak om te gee.

Voel jy vandag soos die boere wat op Rietfontein gestaan en wag het vir die trok? Hoewel die afwagting vir jou deurbraak daar is, kan jy nie help om soms twyfelgedagtes te ervaar omdat jy dit nog nie sien nie. In Psalm 43:5 skryf die Psalmdigter: “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ʼn loflied sing. Hy is my helper en my God!” Ook in Romeine 12:12 lees ons: “Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.” Hoewel ons soms mismoedig mag voel as ons nie dadelik ʼn antwoord op ons gebede kry nie, is dit belangrik om in die wagtyd te kies om nogtans aan te hou om ʼn loflied tot God te sing, terwyl ons onsself herinner dat Hy ons Helper is. Hy hoor elke gebed wat ons bid. Ons lees immers in Openbaring 8 dat God se engele die gebede van die gelowiges regoor die aarde bymekaarmaak en dat dit soos reukoffers voor sy troon opgaan.

Kan jy jouself indink watter glimlag op God se gesig moes verskyn het toe die trok by Rietfontein se hekke indraai? Sy kinders was gehoorsaam om te gee en die tyd vir verligting het vir die boere aangebreek. Jou “trok” is dalk ook op pad. Kom ons hou aan om God te loof en prys in die wagtyd — nie net vir wat Hy kan doen nie, maar juis vir wie Hy is. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS