Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nader tot God – Dag 9

Nader tot God wanneer jy wysheid benodig

Bybelteks(te)

5As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.

6Ken Hom in alles wat jy doen

en Hy sal jou die regte pad laat loop.

6As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.

HEBREËRS 11:6AFR83Maak oop in die Bybelleser

6Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word.

JAKOBUS 1:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

ROMEINE 8:28AFR83Maak oop in die Bybelleser

22Waar daar nie beraadslaging is nie, slaag planne nie;

dit slaag wanneer daar baie raadgewers is.

SPREUKE 15:22AFR83Maak oop in die Bybelleser

6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

FILIPPENSE 4:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Waarvoor het jy vandag wysheid nodig? Dalk vir ʼn krisis by die werk of ʼn uitdaging in jou huwelik of met een van jou kinders? Wonder jy of jy jou eie besigheid moet begin, moet ophou werk om meer tyd saam met jou kinders te spandeer en of jy moet aansoek doen om ʼn nuwe werk of moet bly waar jy tans is? Is die persoon met wie jy in ʼn verhouding is jou huweliksmaat? Of wonder jy bloot hoe jy jou geliefde vir sy of haar verjaardag spesiaal kan laat voel? Het jy al met God oor hierdie sake gepraat?

Onthou, geen situasie is vir God te groot of te klein om jou daarin te lei nie. As iets vir jou belangrik is, is dit vir Hom belangrik. In Jakobus 1:5 staan immers geskryf: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” Ook in Spreuke 3:6 lees ons: “Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”

Hoe belangrik is geloof wanneer ek God vir wysheid vra?

Uiters belangrik. In Hebreërs 11:6 lees ons: “As ʼn mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” Wanneer jy God vir wysheid vra, moet jy vertrou dat Hy jou gaan lei. Word stil en luister wat Hy deur sy Heilige Gees sê. Skryf dit neer en bid dat God dit sal bevestig. Die vyand wil jou laat twyfel, so bewaak jou gedagtes. In Jakobus 1:6-7 lees ons: “… ʼn mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ʼn brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So ʼn mens wat altyd aan die twyfel is … moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.”

Wat as jy gedink het dat jy reg gehoor het en nou besef dat jy verkeerd was?

Daar is genade vir elke seisoen in jou lewe en God ken jou hart. In Romeine 8:28 lees ons: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet …” Geen situasie is ooit te hulpeloos dat God dit nie ten goede kan laat meewerk nie. Hy is immers ʼn God van tweede kanse. Bly naby aan Hom en soek sy aangesig. Hy kan ʼn slegte situasie in ʼn regte situasie omkeer.

Hoe belangrik is raadgewers in die besluitnemingsproses?

In Spreuke 15:22 staan geskryf: “Waar daar nie beraadslaging is nie, slaag planne nie; dit slaag wanneer daar baie raadgewers is.” Maak egter seker dat die mense met wie jy praat ʼn verhouding met God het en dat hulle jou beste belange op die hart dra. God kan jou roete bevestig of verander deur die raad van goeie raadgewers. Kies hulle reg.

Onthou om dankbaar te bly …

In Filippense 4:6-7 lees ons: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” Wanneer ons God begin prys en dank vir ʼn deurbraak wat op pad is, al ken ons nog nie die eindpunt nie, is dit ʼn teken dat ons ons geloof en vertroue in Hom plaas.

Waarvoor benodig jy wysheid vandag? Kom ons nader tot God, vra Hom wat ons benodig en kom ons prys en dank Hom vir wat op pad is. Ons mag dalk net verstom staan oor die oop en toe deure langs die pad soos Hy ons beskerm en lei. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS