Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nader tot God – Dag 8

Nader tot God en spits jou ore vir sy stem

Bybelteks(te)

3Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.

JEREMIA 33:3AFR83Maak oop in die Bybelleser

13Waarom beskuldig jy vir God?

Hy hoef nie vir jou rekenskap te gee van sy dade nie.”

Elihu: God spreek die mens aan

14“God spreek die mens aan,

Hy huiwer nie om dit op meer as een manier te doen nie.

15Hy praat met die mens in 'n droom, in 'n gesig in die nag,

wanneer die mens diep slaap,

wanneer hy vas slaap op sy bed.

16Dan openbaar God Hom aan die mens

en dreig dat Hy hom sal straf

JOB 33:13-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

19God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie,

'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.

Sou Hy iets sê en dit nie doen nie,

iets belowe en dit nie uitvoer nie?

NUMERI 23:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

[ʼn Leser skryf eendag ʼn e-pos aan my met die woorde: “Benescke, ek begeer om God se stem te hoor, maar dit voel asof Hy nie met my praat nie. Hoe kan ek sy stem beter leer ken?”]

Elia was bang. Vreesbevange. Onseker oor die toekoms. In 1 Konings 19 lees ons dat hy in ʼn grot gaan wegkruip het vir die nag. Die Israeliete het hul rug op God gekeer. God se altare is afgebreek en sy profete is selfs doodgemaak. Elia was die enigste profeet wat nog geleef het en hy het vir sy lewe gevrees.

Meteens het God Elia beveel om uit die grot te kom: “Gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.” Elia het God se opdrag gehoorsaam. Wat wou Hy vir hom sê? Hoe sou God lyk?

ʼn Baie sterk wind het die berg stukkend geruk en die rotse gebreek, maar God was nie in die wind nie. Hierna het ʼn aardbewing gevolg, maar God was ook nie in die aardbewing nie. Ná die aardbewing was daar ʼn vuur. Ook was God nie in die vuur nie. Dit is eers toe Elia ʼn fluistering in die windstilte hoor opklink dat hy meteens sy gesig met sy mantel bedek het. Hy het geweet dat dít God was wat met hom gepraat het.

In die donkerste seisoen van Elia se lewe wou God hom herinner wie Hy is. Hy wat nooit verander nie. Ook vandag in ons lewens ervaar ons soms weens omstandighede donker oomblikke wat veroorsaak dat ons net soos Elia in ʼn grot wil gaan wegkruip om te oorleef. Tog roep God ons ook om uit te kom sodat Hy ons in die donker tyd kan herinner wie Hy is.

In Jeremia 33:3 lees ons: “Roep My aan, Ek sal jou antwoord …” Dit is ʼn belofte. As jy God aanroep, sal Hy jou antwoord. Jy moet net ingestel wees om te hoor as Hy met jou praat. Ook in Job 33:13-16 lees ons: “Hoekom beskuldig jy vir God? Hoekom sê jy dat Hy nie wil antwoord nie? Want God praat weer en weer, maar mense luister nie. God praat in die nag, wanneer mense vas slaap, Hy wys vir hulle dinge wanneer hulle droom. Hy sê duidelik vir hulle wat Hy wil hê …”

Omdat heelwat mense ʼn hoorbare stem verwag (en ja, God kan só ook met ons praat, maar Hy doen dit nie noodwendig nie), mis ons dit as Hy wel met ons praat. Hy praat op verskillende maniere. Soms is dit deur sy Woord, soms deur mense, soms deur spontane gedagtes of gevoelens of indrukke in ons harte, soms in drome, soms in ʼn kerkdiens, soms in die natuur, soms in die vorm van ʼn rustigheid of onrustigheid binne ons wat nie wil weggaan nie. Is jy daarop ingestel om God se stem te hoor?

Hoe kan jy weet dat dit wel God is wat met jou praat en dat jy jou nie verbeel nie? Een van die beste maniere om te onderskei of wat ons hoor van God af kom of nie, is om wat ons hoor aan die Woord te meet. God sal ons nooit lei om enigiets te doen of nie te doen wat nie in lyn met sy Woord is nie. Ons lees immers in Numeri 23:19: “God is nie ʼn mens dat Hy sou lieg nie, ʼn mens dat Hy van gedagte sou verander nie.”

Begeer jy om God se stem deur sy Heilige Gees vandag in jou lewe te hoor? Maak tyd om stil te word, wees oop vir die Heilige Gees om met jou te praat, fokus op God en skryf neer wat jy hoor. Klim ook uit die boks van beperkinge deur jou oë en ore dwarsdeur die dag oop te hou vir geleenthede om Hom te beleef. Hierdie mag dalk die eerste stap van ʼn nuwe avontuur saam met Hom wees! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS