Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nader tot God – Dag 10

God nader ook tot ons

Bybelteks(te)

27Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?

JEREMIA 32:27AFR83Maak oop in die Bybelleser

13Ek is die Here jou God,

Ek vat jou hand,

Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie,

Ék help jou.

JESAJA 41:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

EFESIËRS 3:20-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Teen die plafon van die Sistynse kapel in die Vatikaanstad is daar ʼn prent van die skilder Michaelangelo getiteld Die Skepping van Adam. In die prent steek Adam sy vinger uit om aan God se uitgesteekte vinger te raak. Die prent herinner my telkens dat God se begeerte om sy grootheid en krag aan ons te demonstreer selfs groter is as ons begeerte om na Hom uit te reik. Ek wil vandag ʼn getuienis met jou deel van ʼn kollega van my by Radio Tygerberg 104fm, Lorrein Katzke, wat bogenoemde nuut aan ons elkeen kan demonstreer.

Lorrein: “Ek was een aand op pad huis toe na my skof in die ateljee, toe ek na die aandboodskap oor die radio luister. Die prediker het gesels oor die tema, “Niks is vir God onmoontlik nie”. In ʼn stadium het hy passievol en duidelik in geloof onder die leiding van die Heilige Gees met die luisteraars gepraat en gesê: ‘Mevrou, die skeibrief lê reeds op die kombuistafel. Jou man het dit vir jou gestuur om dit te teken, maar jy wil nie. Jy glo steeds dat God julle huwelik kan red. Ek sê vanaand vir jou: Niks is vir God onmoontlik nie.’

Die volgende sin van die prediker het my diep getref. In my motor het ek hoendervleis gekry. Ek kon die teenwoordigheid van die Heilige Gees tasbaar ervaar toe hy sê: ‘En jy, mevrou, wat nou in jou motor ry met die doktersbrief in jou handsak. Jy en jou man moet dit onderteken as toestemming dat die masjiene waaraan julle kind gekoppel is, afgeskakel kan word omdat die dokters nie meer hoop op herstel het nie. Ek wil vanaand vir julle sê: Niks is vir God onmoontlik nie. Hy kan jou kind volmaak genees.’

ʼn Paar maande later het ek ʼn afspraak met ʼn ma en seun gehad wat hulle getuienis vir my program Draaipunt op Radio Tygerberg 104fm sou kom opneem. Ek het vooraf niks omtrent hulle geweet nie – net dat hulle ʼn getuienis gehad het. Groot was die verrassing toe ek hulle in die ontvangslokaal ontmoet en die ma begin vertel dat haar seun maande vantevore in ʼn ernstige motorongeluk was. Sy toestand het so versleg dat die dokters haar na die hospitaal ontbied het. Hulle het vir haar ʼn toestemmingsbrief gegee wat sy moes teken sodat hulle die masjiene waaraan die seun gekoppel was en wat hom aan die lewe gehou het, kon afskakel. Daar was geen hoop vir sy herstel nie. Op pad huis toe om met haar man te gaan praat, het sy die radio aangeskakel en daardie spesifieke preek gehoor waarin die prediker gesê het dat niks vir God onmoontlik is nie.

Toe sy by die huis aangekom het sy haar man van die brief en ook die preek vertel. Hulle het saam besluit dat hulle nie die brief sou onderteken nie, maar dat hulle op God sou vertrou. Daardie volgende dag het die seun se toestand begin verbeter en binne ʼn paar weke was hy by die huis – volkome gesond. Alle eer kom God toe.”

Lorrein is reg. God ken elke uitdaging in ons lewens. Hy hoor wanneer ons na Hom roep – en Hy wil sy grootheid en krag aan ons demonstreer. In Jeremia 32:27 sê Hy immers: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?” Ook in Jesaja 41:13 lees ons: “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou.” En in Efesiërs 3:20-21 word ons herinner dat God veel meer kan doen as wat ons bid of dink: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe.”

Wat is jou uitdaging vandag? Neem dit na God. Nader tot Hom en neem sy reeds uitgestrekte hand na jou. Jou deurbraak is dalk veel nader as wat jy dink. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS