Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nader tot God – Dag 5

Nader tot God met jou vergifnis

Bybelteks(te)

14“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. 15Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

MATTEUS 6:14-15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Op 5 November 2003 was die hooggeregshof in Seattle, Amerika, volgepak. Familielede en vriende van die 48 vermoorde vroue het gekom om boodskappe aan die 54-jarige Gary Leon Ridgway (ook bekend as die Green River-reeksmoordenaar) te gee voordat die regter hom lewenslank tronk toe sou stuur sonder die opsie van parool.

Dié reeks moorde het Ridgway die grootste reeksmoordenaar in die Amerikaanse geskiedenis gemaak. Om ʼn verhoor en daarmee saam moontlike doodstraf te vermy, het hy ʼn ooreenkoms met die gereg onderteken om meer inligting oor die slagoffers aan die polisie te verskaf.

Die spreekbeurte in die hofsaal was gevul met trane, woede, spot en haat teenoor Ridgway, terwyl hy met ʼn strak, emosielose gesig gesit en luister het. Dit is egter toe die bejaarde pa van een van die slagoffers, Richard Rule, met sy lang wit baard na die podium stap dat die onverwagse gebeur. Hy het stadig in ʼn diep stem begin praat: “Meneer Ridgway. Daar is mense in hierdie vertrek wat jou haat … Ek is nie een van hulle nie. Jy het dit baie moeilik gemaak vir my om te leef wat ek glo en wat God van my vereis – om jou te vergewe. Maar vandag sê ek vir jou: ‘Ek vergewe jou …’ ” Met die aanhoor van die woorde het die gesig van die moordenaar vertrek voordat trane oor sy wange begin stroom en hy snikkend begin huil het. In stede van bitterheid en haat het hy ʼn oomblik van genade beleef. Onverdiend.

Besef jy dat ons ook op pad was na die dood voordat Jesus 2 000 jaar gelede op Golgota aan ons ʼn genadedaad bewys het deur in ons plek vir ons sondes te sterf?

Is daar iemand in jou lewe (lewend of wat reeds gesterf het) wat jou ook so oneindig seergemaak het dat dit moeilik is om te dink dat jy hom of haar sal kan vergewe? Voel dit vir jou asof jou vergifnis daardie persoon skotvry daarvan gaan laat afkom, terwyl jy steeds die pyn as gevolg van sy of haar dade moet dra? Dít is wat die vyand ons wil laat glo. Hy sal enigiets doen om te verhoed dat ons vergewe omdat hy weet dat onvergewensgesindheid meestal in bitterheid en haat omsit wat ʼn blokkasie in ons verhouding met God veroorsaak.

Vergifnis is vir God en ook vir ons geweldig belangrik. In Matteus 6:14-15 sê Jesus: “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” Wanneer ons vergewe en ons skuldenaar vryspreek, is dit ʼn teken dat ons die situasie aan God oorlaat. Hy is immers ʼn regverdige regter (Psalm 7:12) wat op sy tyd en manier die oordeel fel. Buiten dat vergifnis ons vrymaak, herstel dit ons verhouding met God en kan ons sy stem duideliker in ons lewens ervaar.

Jesus se opoffering aan die kruis het ons weer die kans gegee om ʼn verhouding met ons Vader te bou. Wil jy nie ook vir God ʼn kans gee om jou deur sy Heilige Gees in staat te stel om jou skuldenaar te vergewe nie? Dit mag dalk net sy teenwoordigheid in jou lewe terugnooi. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS