Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nader tot God – Dag 6

Nader tot God deur sy Woord te lees (Deel 1)

Bybelteks(te)

Die Woord het mens geword

1In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God.

JOHANNES 1:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

16Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

2 TIMOTEUS 3:16-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

105U woord is die lamp wat my die weg wys,

die lig op my pad.

PSALMS 119:105AFR83Maak oop in die Bybelleser

As jy môreoggend opstaan en besef dat elke Bybel in die wêreld se bladsye spierwit is, hoeveel van God se beloftes het jy in jou hart weggebêre?

Die kerkgebou was volgepak toe prediker Charles Spurgeon na die preekstoel stap om die Sondagdiens te begin. Alles het volgens die gewone roetine verloop. Dit is egter toe hy by die gedeelte van die diens kom waar hy gewoonlik eers uit die Bybel voorlees voordat hy met sy preek begin, dat hy tot die verbasing van die gemeente die Bybel onaangeraak op die preekstoel los met die woorde: “Ek het kritiek ontvang dat ek te veel uit die Bybel aanhaal en te min van die wetenskap sê.” Hy het vir ʼn oomblik geaarsel voordat hy verder praat. “Wel, hier is vanoggend ʼn weduwee in die gemeente wat haar enigste seun verloor het. Sy wil weet of sy hom weer gaan sien. Kom ons gaan soek by die wetenskap. Sál sy hom weer sien? Waar is hy? Is die dood die einde van alles of is daar iets na die dood?”

Stilte het oor die gemeente neergedaal terwyl Charles van die een kant van die kerkgebou oor die gemeente na die ander kant gekyk het. “Is daar enige antwoorde?” Die stilte het gerek, maar niemand het dit gewaag om op te staan en iets te sê nie. Na ʼn paar minute het Charles die Bybel nadergetrek en gesê: “Nou toe, kom ons kyk wat God se Woord hieroor sê.”

Drie feite rondom die Woord van God:

  • God is die Woord: In Johannes 1:1-2 lees ons: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.”
  • Die Woord is deur God geïnspireer: In 2 Timoteus 3:16-17 staan geskryf: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ʼn regte lewenswyse te kweek …”
  • Die Woord is ʼn kompas vir ons lewenspad: In Psalm 119:105 staan geskryf: “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.”

God se Woord is lewend en kragtig, deur God geïnspireer met die doel om ons op ons lewenspad te lei, om dwaling te bestry en ons te help om die regte lewenswyse te kweek. Die beloftes van God is ons ammunisie teen die vyand se aanslae. Die Woord is ook daar om ons te help om God beter te leer ken.

Wil jy tot God nader? Begin dan om sy Woord te lees. En as jy vashaak, vra gerus dat die Heilige Gees dit vir jou oopbreek. Jy mag verbaas staan wanneer jy God se liefde vir jou ontdek en ook besef dat sy begeerte om ʼn verhouding met jou te bou selfs groter as joune is. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS