Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nader tot God – Dag 19

Nader tot God in vas en gebed

Bybelteks(te)

As julle vas

16“As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. 17Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig 18sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

MATTEUS 6:16-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Paar jaar gelede het ek ʼn gesprek oor die waarde van vas en gebed op my radioprogram gehad. Daar was interessante reaksies. Een luisteraar het gesê dit is oudtyds en nie meer van toepassing nie. Die oorgrote meerderheid luisteraars het egter getuig dat hulle God se teenwoordigheid in hulle lewens opnuut tydens ʼn vastydperk beleef het. Van die getuienisse ná of selfs tydens die vastydperk het ingesluit finansiële deurbrake, verligting van emosionele pyn, huwelike wat herstel is, gemeenskappe wat omgekeer is, kinders wat eindelik uit die kloue van dwelmverslawing vrygekom het en daar was selfs een luisteraar wat getuig het dat sy swanger geraak het tydens ʼn vastydperk nadat dokters gesê het dat dit onmoontlik vir haar was om haar eie kinders te hê. Dít is wat God kan doen.

Was dit die vastydperk wat die verskil gemaak het? Nee. Dit was God. Die vastydperk was bloot ʼn geleentheid waartydens ʼn persoon of persone begin het om weg te kyk van die uitdaging wat hulle in die gesig staar om hul oë op God te fokus. Terwyl hulle sy aangesig begin soek het, het hulle beleef hoe hul harte saam met God sʼn oor ʼn bepaalde saak begin klop het. Dít het die verskil gemaak.

Wat is vas? Wanneer ons vas weerhou ons onsself van kos (en soms water ook) met die doel om op God te fokus en sy aangesig te soek. Vas is dus nie ʼn towerformule of ʼn manier om vinnig gewig te verloor nie. Nog minder is dit ʼn manier om God se arm te draai of Hom te probeer manipuleer om vir ons te gee wat ons verlang. Ons vas om tot God te nader – die deurbraak is ʼn bonus.

Is dit bybels? Regdeur die Bybel lees ons dat gelowiges gevas en gebid het om God se aangesig te soek. Ester het byvoorbeeld vir drie dae lank gevas voordat sy na die koning is om vir die oorlewing van die Jode te pleit, Daniel en sy vriende het vir 21 dae lank gevas vir wysheid tydens hul ballingskap, Jesus het vir 40 dae lank gevas voordat sy bediening begin het en selfs in die boek van Handelinge lees ons dat gelowiges gevas en gebid het voordat groot besluite geneem is.

Hoe om te vas? In Matteus 6:16-18 sê Jesus: “As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas … Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

Benodig jy ʼn deurbraak in jou gesin, jou werkplek, jou finansiële situasie of selfs in jou huwelik? In Markus 9:29 vra die dissipels vir Jesus waarom hulle gesukkel het om ʼn sekere bose gees uit te dryf – slegs Jesus kon dit doen. Hy antwoord hulle dat sommige bose geeste se houvas slegs deur vas en gebed gebreek kan word. Is dit nie dalk ook vir jou tyd om ʼn vastydperk te oorweeg waarin jy God se aangesig begin soek nie? Of jy ʼn deurbraak beleef of nie, een ding kan ek jou verseker, jy sal nooit weer dieselfde wees sodra jou hart saam met God sʼn begin klop nie. En wie weet wat dalk in jou lewe mag volg? Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS