Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nader tot God – Dag 18

Nader tot God in droogte

Bybelteks(te)

8My gedagtes is nie julle gedagtes nie,

en julle optrede nie soos Myne nie,

sê die Here;

9soos die hemel hoër is as die aarde,

so is my optrede verhewe bo julle optrede

en my gedagtes bo julle gedagtes.

JESAJA 55:8-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

5Tot nou toe het ek net gehoor

wat mense van U sê,

maar nou het ek U self gesien,

23Deurgrond my, o God, deurgrond my hart,

ondersoek my, sien tog my onrus raak.

24Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie

en lei my op die beproefde pad!

PSALMS 139:23-24AFR83Maak oop in die Bybelleser

3Wie mag die berg van die Here opgaan

en wie mag in sy heiligdom gaan staan?

4Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is,

wat alle bedrog vermy en geen vals eed aflê nie.

PSALMS 24:3-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

13As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, 14en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel. 15Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan.

2 KRONIEKE 7:13-15AFR83Maak oop in die Bybelleser

[ʼn Leser skryf op ʼn dag in ʼn e-pos: “Help asseblief die boere hoe om in droogte te bid en te dink. Dit is nie ʼn eenmalige gebeurtenis nie en sommige is in situasies waarin hulle hul plase kan verloor as die reën wegbly.”]

Vir boere mag dit droogte op die plase wees. Dalk is jou droogteseisoen kinderloosheid, werkloosheid, skuld wat soos ʼn dolk bo jou kop hang, ʼn siekte, of ʼn ongelowige huweliksmaat. Ons bid vir reën en soms lyk dit asof die wolke begin saampak en ons harte word met hoop gevul, maar dan verdwyn die wolke skielik weer wat ons met baie vrae laat. Is dit dalk hoe jy ook vandag voel? Jy bid, maar beleef nie dadelik ʼn antwoord nie?

Hier is drie dinge wat ons te midde van droogteseisoene in ons lewens kan onthou:

1)    God bly in beheer: In Jesaja 55:8-9 sê God: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie … soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.” Nie een van ons is gevrywaar van uitdagings omdat ons gelowiges is nie. Ons leef immers in ʼn gebroke wêreld. Die voordeel wat ons egter het, is om te weet dat God ons nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie. As ons aanhou om God te midde van droogtetye te prys, lééf ons ons getuienis van geloof uit na die mense wat ons dophou rondom ons, maar dit word terselfdertyd ʼn teken van ons geloof in God. Hy sien dit raak en Hy sal dit beloon (Matteus 6:6b).

2)    Droogte word ʼn geleentheid om God te vereer: Die wagtyd vir reën dwing ons op ons knieë waar ons God se karakter opnuut ontdek. Ná Job se seerste, mees gebroke seisoen in sy lewe kon Hy immers daarop terugkyk en sê: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien …” (Job 42:5). Wanneer die reën ná ʼn droogteseisoen kom, is ons baie keer nie meer net dankbaar vir die reën nie, maar ook omdat ons nou wéét wie God is. Ons fokus het immers in die wagtyd tydens die probleem teruggeskuif na Hom.

3)    Droogte word ʼn geleentheid om blokkasies te verwyder: Wat is daar in jou lewe wat ʼn blokkasie in jou verhouding met God veroorsaak? Het jy en jou buurman of kollega ʼn uitval gehad en jy is die een wat kies om nie te vergewe nie? Hoe lyk jou huwelik? Tree jy op met integriteit in elke situasie? In Psalm 139:23-24 skryf die psalmdigter: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes … en lei my op die ewige weg!” Ook in Psalm 24:3-4 staan geskryf: “Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan? Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is, wat alle bedrog vermy.”

Wanneer ons God se aangesig in die droogtetyd soek, kan ons vashou aan sy belofte in 2 Kronieke 7:13-15: “As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie … en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek.”

Wat is die droogte-areas in jou lewe vandag? Kom ons herinner onsself dat God in beheer van ons lewens bly. Kom ons prys Hom terwyl ons die geleentheid aangryp om sy karakter opnuut te ontdek. En kom ons verwyder doelbewus die blokkasies in ons lewens sodat God deur sy Heilige Gees in en deur ons lewens kan werk. Doen ons dit, kan ek jou waarborg dat ons solank die sambrele kan begin uithaal, want die reën is dalk baie nader as wat ons dink. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS