Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nader tot God – Dag 20

Nader tot God, want Hy wag reeds op ons

Bybelteks(te)

16“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

JOHANNES 3:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

25En dít is wat die Seun ons belowe het: die ewige lewe.

1 JOHANNES 2:25AFR83Maak oop in die Bybelleser

8Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars.

Gebedsverhoring

7“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word,

Dit bly verstommend hoe God betrokke is by lesers se lewens.

Die Skotse dokter John Baillie vertel in sy boek, And the Life Everlasting, van ʼn dag wat hy langs ʼn sterwende vriend se bed in dié se huis gewaak het. In ʼn stadium het sy vriend na hom gedraai en gevra: “John, jy is ʼn geleerde gelowige … wat wag op my nadat ek sterf?”

ʼn Stilte het tussen die mans neergedaal omdat John nie onmiddellik geweet het wat om vir sy vriend te antwoord nie. As gelowige het hy in die ewige lewe na die dood geglo, maar hy was onseker oor wat dit presies behels.

Die twee mans het ʼn gekrap by die voordeur gehoor en vir John was dit in daardie oomblik asof die Heilige Gees ʼn beeld in sy gees laat val het. Hy het na sy vriend gedraai en gevra: “Kan jy die gekrap aan die voordeur hoor?” Sy vriend het geknik. “Dit is my hond wat geduldig buitekant vir my sit en wag. Hy was nog nooit binne jou mooi huis nie. Hy het geen idee hoe dit hier lyk nie. Tog is hy gretig om in te kom. Hoekom? Omdat ek hier is. Dít is al wat ek van die lewe na die dood weet. Ek weet nie presies wat op ons wag nie, maar ek sien uit daarna omdat ek weet dat God dáár is.”

John se sterwende vriend het geglimlag en gesê: “Dankie, my vriend. Dit is vir my genoeg.”

Kan ons seker weet dat ʼn lewe na die dood op ons wag?

Ja. In Johannes 3:16 lees ons: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” Ook in 1 Johannes 2:25: “En dít is wat die Seun ons belowe het: die ewige lewe.”

Wat is dus die vereiste vir die ewige lewe?

Om in Jesus Christus as Verlosser te glo.

Ons kom nie tot bekering net om ʼn ewigheid van verdoemenis vry te spring nie, maar eerder omdat ons ʼn verhouding met God op aarde begeer. Juis daarom kan ons tot Hom nader in oomblikke van bekommernis oor ons geliefdes, wanneer ons wysheid kortkom, in vreesagtige situasies, te midde van versoekings, in die werkplek, in die wagtyd en selfs te midde van ʼn droogtetyd. Ons doen dit deur ʼn tydperk van vas en gebed en om ʼn slag stil te word en na God se stem te luister. Ons lees immers in Jakobus 4:8: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” En ook in Matteus 7:7: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word …”

Kom ons herinner onsself dat die lewe op aarde tydelik is en dat ons ʼn eindbestemming het, naamlik ʼn ewige lewe saam met God. Al weet ons nie presies hoe dit gaan wees nie, kan ons gretig daarna uitsien omdat ons weet dat Hy daar is. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS