Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nader tot God – Dag 17

Nader tot God deur ʼn beskikbare instrument in sy hand te wees

Bybelteks(te)

9Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God.

Die gelowiges as die gebou van God

Julle is ook die gebou van God.

1 KORINTIËRS 3:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

13Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as 'n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.

ROMEINE 6:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

20In 'n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse. 21As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy 'n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.

2 TIMOTEUS 2:20-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Paar jaar gelede tref een van daardie ongemaklike situasies my – een wat ouers te alle tye wil vermy! Na afloop van ʼn uitstappie na die winkelsentrum was ek besig om my dogtertjie, Joalé, wat toe twee jaar oud was, agterin die motor vas te maak, nadat ek my motorsleutel op die voorste sitplek neergesit het om dit nie later te soek nie. Tot op hierdie punt het alles goed verloop. Nadat ek die agterdeur toegemaak het om voor in te klim, het die motoralarm egter vanself geaktiveer. Daar staan ek toe buite die motor met toe deure, sonder ʼn sleutel in my hand, met my dogtertjie agterin!

Terwyl ʼn koue rilling van skok en paniek langs my ruggraat afgly het honderde gedagtes deur my kop gemaal van hoe ek die deur gaan oopkry. Ek het selfs oorweeg om die venster te breek. In dié proses het ʼn veiligheidswag nadergestaan om hulp aan te bied. Hy het gesê dat hy sy beheerkamer sal skakel van waar hulle dan weer ʼn sleutelmaker kan kontak. Dit sou ʼn uur neem voordat die man opdaag. ʼn Uur was heeltemal te lank vir my aangesien al die vensters van die motor toe was. Ek wou net-net moed verloor toe ʼn logiese gedagte my tref: Praat met jou kind. In my skok en paniek het ek nie eens vroeër daaraan gedink nie! Ek het Joalé se aandag gekry en haar deur die venster stap vir stap beduie hoe sy haarself moes losmaak, vorentoe klim en die knoppie op die alarm van die motor druk sodat die deure kon oopgaan. Ek was lanklaas so verlig as toe ek haar ʼn drukkie kon gee!

Dié insident het my ʼn geestelike les geleer. Op aarde is ons soos my dogtertjie in die motor. God staan aan die buitekant en hoewel Hy almagtig is en binne oomblikke kan doen wat Hy gedoen wil hê op aarde (net soos ek die sleutelmaker kon kontak of self die venster kon breek), kies Hy om ons as instrumente te gebruik om sy liefde en genade aan die wêreld te demonstreer. Al wat ons moet doen, is om ons ore te spits en gehoorsaam te wees as Hy ons lei om iets te doen. Die vraag is net: Is jy gehoorsaam as Hy jou vandag wil gebruik?

In 1 Korintiërs 3:9 lees ons: “Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God.” Ook in Romeine 6:13 staan geskryf: “… stel julle in diens van God … en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.” En in 2 Timoteus 2:20-21 lees ons: “In ʼn groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse. As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ʼn voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.”

Wat vra God vandag vir jou om te doen? Voel dit vir jou asof die opoffering te veel is en of jy twyfel of jy oor genoeg wysheid beskik om ʼn projek deur te voer? Onthou, God sal jou ook stap vir stap deur sy Heilige Gees tot by die eindpunt lei. Wees jy net gehoorsaam. Ek is oortuig daarvan dat God ook ʼn breë glimlag op sy gesig het wanneer geslote deure op aarde oopgaan omdat sy beskikbare instrumente gehoorsaam was. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS