Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nader tot God – Dag 16

Nader tot God in dankbaarheid

Bybelteks(te)

20Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.

EFESIËRS 5:20AFR83Maak oop in die Bybelleser

6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

FILIPPENSE 4:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vir wie vertel jy eerste as jy goeie nuus ontvang het? ʼn Vriend of vriendin? Jou ouers? Jou huweliksmaat? Of sê jy eerste vir God dankie? Of dalk moet ek eerder vra: Onthou jy om Hom te bedank vir jou deurbrake?

In tye van angs, hartseer of moeilikheid is dit maklik om tot God te bid – selfs ongelowiges roep in desperate oomblikke na God om hulp. Tog moet ons besef dat God ʼn begeerte het om erken te word in die goeie tye in ons lewens, net soveel soos wat Hy ons gedurende uitdagende tye wil help. In Efesiërs 5:20 lees ons immers: “Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.”

Dankbaarheid begin by ʼn ingesteldheid. Elke persoon op aarde het ten minste vandag een ding om voor dankbaar te wees. Die probleem is dat ons soms so vasgevang raak in uitdagings dat dit later al word waaroor ons dink en praat terwyl ons niks goeds meer raaksien nie.

Selfs te midde van die grootste krisis in ons lewens kan en behoort ons God te dank. Paulus skryf dat wanneer ons dit doen, ons ons geloof aan God demonstreer omdat ons glo dat Hy agter die skerms besig is om dinge in plek te stel om ʼn deurbraak in ons lewens te bewerkstellig. In Filippense 4:6-7 staan geskryf: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Waarvoor is jy vandag dankbaar? Jou gesondheid? Jou gesin? Jou werksgeleentheid? Jou vermoë om te hoor en sien? Het jy God al daarvoor gedank?

Wanneer ons God daagliks vir ten minste een ding dank, sal ons gou die ander genadegawes in ons lewens begin raaksien. Dalk sal ons dan volgende keer as ons goeie nuus kry onmiddellik onthou dat dit ʼn geskenk uit God se hand is en Hom eerste daarvoor dank! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS